ToekomsVenster: Waar is Hy?

(Foto: Antoinette Meyer)

Toe het sy volk gedink aan die ou dae, aan die tyd van Moses, en gevra: Waar is Hy wat sy kudde dwarsdeur die see gebring het saam met hulle herder? Waar is Hy wat sy Heilige Gees onder hulle gegee het? – Jesaja 63:11

Die groot vraag na God se betrokkenheid by oorlogsituasie soos dit wat tans aan die uitspeel is, is aktueel maar ook so oud soos die mensdom self.

Waarom laat die Here dit toe? Waarom spreek Hy nie ʼn magswoord en bring ʼn einde aan die lyding van mense nie? Waarom ruk hy mense soos die aggressors van ons tyd nie tot orde en verantwoording toe nie? Waarom keer Hy nie dat die bomme mense doodmaak nie?

Daar is geen duidelike maklike antwoord daarop nie.

God is soewerein. Hy doen dinge op sy manier, op ʼn Goddelike en heilige manier. God gee mense beweegruimte om keuses te maak, selfs keuses wat ander skade berokken.

God staan by terwyl bomme op bewoonde woonstelkomplekse reën en vallende beton mense dood.

God is daar. Onverstaanbaar, maar waar. Daar is immers nie ʼn plek waar God nie is nie.

Ons leef 9 000 kilometer van die oorlogsgebied af. Ek teoretiseer oor God en sy betrokkenheid en onderskraging van mense in die stede van die Oekraïne. Die mense wat daar woon – vir hulle is geloof nie blote teorie nie, dit is beleefde praktyk.

As hulle roep, hoor en ervaar hulle dat God sê: “Ek sal jou nooit begewe en nooit verlaat nie. Ek hou jou in my Hand”.

As hulle vlug, stamp Hy die klippe uit die pad.

As hulle die laaste asem uitblaas ontvang Hy hulle in sy Koninklike heerlikheid.

Ek verstaan nie, hulle verstaan.

Ek kan nie vertel nie, dit is hulle storie om te vertel en stories van God se wonderbaarlike genade is daar.

Beeldmateriaal van gemeentes wat luidrugtig die lof van God besing terwyl puin die terrein buite ontsier, is volop.

Ons ervaar God op ʼn ander manier hier waar ons onsself bevind. Hy vul ons met deernis en meelewing, bemagtig ons vir kragtige gebed, laat ons let op ons eie lewe of ons nie dalk somtyds ewe wreed teenoor mekaar optree nie.

God is daar, anders is sy Woord onbetroubaar, onwaar.

Die mense daar bevestig dat hulle nie alleen is nie.

Dit vul ons met bewondering en dankbaarheid.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Yvonne ·

Dankie Here dat tenspyte van oorlog en trauma U in beheer is en niks maar niks ons uit U Hand sal ruk nie…Amen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.