ToekomsVenster: Waar is jy?

wegkruip

Foto: Pixabay/Pexels.com.

Maar die Here God het na die mens geroep en vir hom gevra: “Waar is jy?” – Gen. 3:9

God het Adam en Eva gemaak en opdrag gegee om die geskape werklikheid namens Hom te bestuur. Daar was duidelike riglyne neergelê wat die kontoere van die verhouding tussen die twee mense en God uitgespel het. God het immers die reg om voorwaardes te stel. Hy wou die lojaliteit van die mense wat Hy gemaak het toets en het derhalwe duidelik opdrag gegee dat hulle van ʼn sekere boom se vrug nie mag eet nie. Die gevolg van daarvan eet was duidelik uitgespel. Die dag as jy daarvan eet sterf jy. Die verhaal is bekend. Onder aanstigting van die duiwel gee Adam en Eva toe aan die suggestie van die bose dat God dit nie opreg bedoel met sy handewerk nie. Die versoeking om soos God te wees is te ene male net te oorweldigend en beide swig voor die bose se aanslag en leuen. Die verhaal is bekend. Skielik word Adam en Evan van hul naaktheid bewus. Naaktheid is ʼn metafoor vir die skuld waarmee hulle nou gekonfronteer staan. Hulle kruip weg vir God. Die vraag deurboor en stel hulle bloot wanneer God na hulle soek. Uiteraard weet God waar hulle probeer wegkruip. Hy stel egter die vraag om Adam en Eva met hul skuld te konfronteer.

Waar is jy is ʼn ongemaklike vraag as jy nie is waar die Here bedoel het jy moet wees nie. Is jy ook besig om vir die Here weg te kruip? Het jy ook willens en wetens die gebod van God oortree? Staan jy ook naak en ontdaan van alle verskonings voor sy hoë majesteit?

Adam en Eva verteenwoordig die gevalle mens. Nuwe Testamentiese egter het die tweede Adam gekom en dit wat die eerste nie kon regkry nie, gedoen. In Hom, die tweede Adam, is die sonde waarin die eerste ons gedompel het volledig aangespreek.

God soek jou op. Kom uit jou skuiling en beroep jou op sy oorvloedige genade.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.