ToekomsVenster: Waar kom die stryd vandaan?

onsondergang-sonsopkoms-2018-09-01

Foto: Juanita Badenhorst.

Waar kom die stryd vandaan, waar kom die rusies onder julle vandaan? Kom dit nie van julle selfsugtige begeertes wat gedurig binne-in julle woed nie? Julle wil dinge hê, maar kry dit nie en wil dan moord pleeg; julle is jaloers op ‘n ander man se goed en kan dit nie in die hande kry nie en dan maak julle rusie en baklei julle. Julle kry nie, omdat julle nie bid nie. – Jak. 4:1-2

Jakobus draai geen doekies om nie. Hy is duidelik ontsteld en gaan niks en niemand spaar nie. As die skoen jou pas sê die spreekwoord, trek hom aan.

Dit is tyd dat ons eerlik raak oor onsself en die wêreld waarin ons woon. Die toekoms is op die spel, niks minder as wat dit in Jakobus se dae was nie. Die skrywer sê daar is twee alternatiewe, lewe en dood en vervolg met die appèl, “kies dan die lewe”.

Lewe veronderstel ʼn sekere “etiek” waarsonder ʼn mens God nie sal sien nie. Ons het dalk net vir te lank met sonde om die lyf probeer loop. Dalk roep die uur ons om wakker te word uit die slaap. Dalk het Suid-Afrika Jakobus se eerlikheid juis nou nodig.

Ons is ʼn verskeurde land. Die land bestaan uit mense. Ons is daardie mense. Rekenskap begin by elkeen van ons. Dit beteken nie dat ʼn mens met ʼn sieklike introspeksie op dreef moet gaan en sonde gaan fabriseer waar dit nie bestaan nie. Dit beteken egter tog dat ons onsself spieël in die lig van God se Woord en Hom vertrou vir die eerlikheid wat dit van ons vra.

Mens mag redeneer dat sulke verwysings darem nie aan die adres van God se kinders gerig behoort te word nie. Jakobus moet eerder die onverskilliges en losbandige wat nie die erediens besoek nie en wat duidelik onverskillig teenoor God staan, aandurf.

Dit is betekenisvol dat die Bybelboodskap in die eerste plek aan die adres van God se kinders gerig word. Dit is tegelykertyd die ontstellende waarheid dat mense wie se lewens kwalitatief en duidelik ʼn ander gehalte moes vertoon, selfs meer onverskillig as die wêreld leef.

Rusie kom vanweë selfsug. Mense wil onder alle omstandighede hul eie sin hê. Niemand is bereid om toe te gee nie. Selfhandhawing teen enige prys is aan die orde van die dag.

Moord het ʼn daaglikse realiteit geword by ons. Dis lank nie meer die prerogatief van net sekere mense en lae van die samelewing nie. Dis skokkend en ontsenuend om te sien hoe min menselewens werd is.

Die woorde “begeertes wat aan die binnekant woed” tref nogal. Wanneer dit so gaan in ʼn mens is dit duidelik dat daardie lewe nie onder beheer van die Heilige Gees is nie. Gees geïnspireerde lewens staan onder die leiding van die Gees. Dissipline is die vernaamste merkteken van ʼn lewe wat deur die Gees beheers word.

Die eenvoud van die laaste sin val op. “Julle kry nie omdat julle nie bid nie”. Miskien het ons te gesofistikeerd geraak om God te vertrou. Ons maak eerder ons eie planne en gaan daarmee om. Dit ly tot ongekende hartseer en trauma vir baie. Oggend- en aandnuus is daarvan ʼn sprekende voorbeeld.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Lena Jonk ·

Ja oor die hele wereld verwerp mense God, daar is dank Vader nog heelwat mense wat aan Hom vashou. Mense wie nog Godsdiens soggens en saans hou word al hoe minder. Daar word gespot met ons God maar een ding is ek van seker, die feit dat hulle die Christelike dagstukkies en Christelike rubrieke lees is daar iets wat hulle krap en wonder hulle wat in hulle lewens is wat hulle daartoe dryf. Die Woord waarsku ons teen hulle. Laat ons nie in die kring van die spotters beland nie, maar sal aanhou om die wedloop te hardloop tot ons by die wenstreep is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.