ToekomsVenster: Waar kom jou waagmoed vandaan?


waagmoed-balans

Foto: Alexas_Fotos/Pixabay.com

Lees: Hebreërs 4:16; Handelinge 4:8-13 en 1 Johannes 4:17

Vir baie van ons is die kinderliedjie “Ek’s ʼn dapper muis” bekend. Die braafheid en selfs onverskilligheid van die muis om in die huis rond te paradeer terwyl die kat nie daar is nie, het al menige kind angstig gemaak vir die oomblik dat die kat terugkeer.

So word ons ook angstig as ons die Groot Opdrag van Jesus hoor; as ons dink aan getuie-wees. Om getuie te wees … by jou huis, onder jou vriende en kollegas, jou bure en tot die uithoeke van die wêreld. Ons wil haastig soos Moses verskoning aanteken: “Ek praat swaar”; “My tong sukkel.”

Ons verskonings klink dalk eerder soos volg: “Ek’s ʼn introvert, en kan beslis nie voor ander mense praat nie”; “Ek’s te skaam.” Wel, dan is parrhēsia (παῤῥησία: all outspokenness; bluntness; boldness; confidence) ʼn woord wat jy vandag moet leer! Hierdie kosbare woord kom in drie kontekste voor – sover ek weet … Die een vind ons in Hebreërs 4:16: “Kom ons gaan met vrymoedigheid na die genadetroon …”, Handelinge 4:13: “Die Joodse Raad was verbaas toe hulle Petrus en Johannes se vrymoedigheid sien …” en 1 Johannes 4:17: “… dat ons vrymoedigheid kan hê in die oordeelsdag …”

Raak prakties

Maak ʼn lysie van jou “gewoonte”-verskonings wanneer die Here se roeping oor jou lewe ter sprake kom. Hoeveel gewig dra hierdie verskonings wanneer jy hulle opweeg teenoor die vrymoedigheid wat die Here vir jou gee?

Iets om oor na te dink

Waar kom hierdie vrymoedigheid vandaan? Wel, dink ek, in die eerste plek, vanuit ons herstelde verhouding met die Here! Lees die treffende verhaal van die hoëpriester Jesua se vergifnis, vryspraak en herstel in Sagaria 3. Vers 5 vertel hoedat die Engel van die Here opdrag gee dat ʼn skoon tulband weer vir Jesua opgesit word en vers 7 vertel hoedat Jesua weer gesag sal hê oor die huis van die Here en verantwoordelikheid sal dra vir sy heiligdom – alleen vanuit sy vryspraak kon Jesua die vrymoedigheid en gesag hê om weer in die Here God se magtige teenwoordigheid te kom. In die tweede plek – meen ek – parrhēsia is ʼn geskenk van die Heilige Gees, Hy ken hierdie boldness aan ons elkeen toe.

Gebed

Dankie, Here, dat U waagmoed aan my skenk op tye en plekke waar ek sou terugdeins. Amen.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.