ToekomsVenster: Waar laat dit my en jou?


Foto verskaf aan Maroela Media

Foto verskaf aan Maroela Media

Filippense 3:4 Tog sou ek ook op uiterlike dinge kon vertrou. As iemand meen dat hy op uiterlike dinge kan vertrou, ek nog meer: ek is op die agste dag besny van geboorte ’n Israeliet, uit die stam Benjamin, ’n egte Hebreër, in wetsopvatting was ek ’n Fariseër, in my ywer ’n vervolger van die kerk, in onderhouding van die wet van Moses om vryspraak te kry, onberispelik. Maar wat eers vir my ’n bate was, beskou ek nou as waardeloos ter wille van Christus.

Die gedeelte gaan oor Paulus wat al die regte goed op sy CV kon skryf. Tog verander hy – dit maak dat hy twee keer dink; dit wat hy vroeër as ’n bate beskou het, is nou waardeloos.

Jy het dalk ook al die regte goed op jou CV. Jy gaan gereeld kerk toe, is ingeskakel by ’n bybelstudie, maar nou kom die woord ‘gestuur’ op jou CV by. Wat nou? Jy het dalk soos ek grootgeword dat gestuurdes spesiale mense is wat bereid is om die ongekende lande en tale te oorbrug om die evangelie uit te dra. Hulle is die mense wat na ver lande reis; Indië, China of in Afrika. Die gedagte dat ek as gestuurde dalk alles moet los en iewers heen moet gaan, is ontstellend.

Jy moet ook onthou dat ons op verskillende maniere van mense of die natuur die boodskap van die evangelie gekry het. Omdat die omstandighede verskil toe daar met ons gepraat is, is elke boodskap se aksent verskillend: genade, hulp vir nood of hartseer of bloot die erkenning dat ek ’n gebroke mens is. Natuurlik is daar nie ’n harde skeiding tussen die drie nie, maar hulle kan soms oorvleuel. Waar laat dit my? Moet ek een van die aksente uitsonder?

In die derde plek is die wyse waarop ons tekste lees en verstaan verskillend. Sommige lees sekere tekste as letterlik, ander weer lees dit as deel van die groter storie van die Bybel. Maak nie saak hoe jy dit lees nie – wat maak jy met die tekste wat duidelik en ondubbelsinnig opdrag gee om die boodskap te verkondig? Gelowiges is gestuur.

Vierdens is ons belewenis van die Coram dei van God verskillend. (Coram dei is die teenwoordigheid van God). Elkeen ervaar die teenwoordigheid van God anders. Is ek ’n dink, emosionele, stil word of doen mens? As ek ’n stil word mens is, gaan ek nie sommer die boodskap hoor waar daar gesing en gedans word tot eer van die Here nie. As ek ’n dink mens is, wil ek duidelike en klaar antwoorde hê en nie belewenisse en ervaring nie.

Waar laat dit jou?

Gebed:

Ons Vader in die hemel dankie dat U my raaksien en ook aanraak. Ek is bang om te leef, veral as ek nog U Woord moet uitdra. Ek weet nie hoe en waar nie. Lei U my. Amen.

Leefwyse:

Dink vir ’n oomblik aan wat jy sopas gelees het. Het jy al die ‘regte’ geloofsgoed op jou CV? Indien ‘ja’, wat gaan jy daarmee maak?

Iets om vandag oor na te dink:

Waar laat dit jou? Dit is iets wat jy vir jouself moet uitmaak. Niemand kan namens jou daarop antwoord nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.