ToekomsVenster: Waar maak jy jou skatte bymekaar?

kompas

Foto: Bryan Minear/Unsplash.com

’n Gelowige wat arm is, moet hom daarin verheug dat hy sy aansien in God het, en een wat ryk is, dat hy voor God gering is, want die ryke sal vergaan soos ‘n veldblom. As die son met sy gloeiende hitte opkom, verskroei dit die plantegroei, die blomme val af en die prag is daarmee heen. So sal die ryke ook tussen al sy bedrywighede deur vergaan. – Jakobus 1:9-11

Ek stel dit nog sterker: Dit is makliker vir ‘n kameel om deur die oog van ‘n naald te kom as vir ‘n ryke om in die koninkryk van God te kom.” – Matteus 19:24

Ons stel waarde op dinge wat van verbygaande aard is. Dit is meer dikwels die mense wat aansien het en rykdom besit wat deur die wêreld aangeprys word. Dit is ʼn wêreld waar dit wat jy besit, wie jy ken, waar jy bly en wat jy ry om ʼn paar dinge te noem, gesog en navolgenswaardig is. Wie jy ken kan deure oopmaak en gee aan jou status. In die oë van die wêreld verteenwoordig hierdie glansmense die respek en waardering van ander.

Uiteraard is daar niks mee fout om enige van hierdie dinge te besit of te ervaar nie. Die probleem kom daarby dat dit jou en ander se identiteit vorm. (Ryk jong man Lukas 18)

Dit gee waarde en erkenning. Gewone mense raak in die massa verlore. Hulle haal nie die koerante nie en is oënskynlik onbelangrik. Jakobus help ons om tye verstaan dat ʼn mens ryk moet wees in jou kennis van God en betekenisvolle verhoudinge met ander mense. Sodanige rykdom het ewigheidswaarde. Die res is kortstondig en kan oornag weggeneem word. Baie van ons ken mense van wie dit waar is. Die rykes se lewe word meer dikwels deur spanning en onsekerheid gekenmerk. Hulle weet dat hul gelukskasteel op sand gebou is. Om ryk te wees in God is ware rykdom. God seën ook mense wie se prioriteite reg is. Die metafoor van ʼn blom wat sommer maklik vergaan wanneer die versengende somerson daarop skyn help Jakobus se lewers om iets te verstaan van die kortstondigheid en onvoorspelbaarheid van aardse skatte.

“Moenie vir julle skatte op aarde bymekaarmaak waar mot en roes dit verniel en waar diewe inbreek en dit steel nie. Maak vir julle skatte in die hemel bymekaar, waar mot en roes dit nie verniel nie en waar diewe nie inbreek en dit steel nie. Waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees.” – Matteus 6:19-21

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Cornelia ·

Amen. Dankie ds. Dankie dat u getrou die gemeente en bruid van God herinner aan haar eerste liefde. En as haar olie nuut en vars bly, sal haar lig nié in die duisternis van die wêreld geblus kan word nie. Mag die ware gelowiges, onder sware vervolging en weerstand, nogtans soos arende sweef en die wedloop, volhardend enduit in die Krag van Jesus Christus voltooi. Want na alles, is Hy ons grootste Rykdom en ons enigste Skat. Onwegneembaar. Amen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.