ToekomsVenster: Waarheen is ons op pad

sonsopkoms-pad-toekoms-stiltetyd.jpg

(Foto: Pixabay)

Ek wil jou onderrig en jou leer aangaande die weg wat jy moet gaan; Ek wil raad gee; my oog sal op jou wees. Wees nie soos ‘n perd, soos ‘n muilesel wat geen verstand het nie, wat ‘n mens moet tem met toom en teuel as sy tuig, anders kom hy nie naby jou nie. – Psalms 32:8-9

Ongeduldig, dit is wat ek is wanneer dit by legkaarte kom. Ek kan nie wag nie en wil die voltooide legkaart binne minute voor my oop hê. Ongelukkig werk die lewe nie so nie. Die stukke van die legkaart is deurmekaar geskommel en kan nie onmiddellik geïdentifiseer en geplaas word nie. Jy oorweeg, probeer dit pas, kom agter dit is die verkeerde plek, probeer elders of plaas dit eers weer terug in die bondel.

Dalk identifiseer jy dit as iets besonderes en plaas dit eenkant sodat jy dele wat daarmee verband hou ook daar kan versamel.

Ons bid dat die Here ons sal wys waarheen ons op pad mag wees en ons help om die talle stukke van ons eie lewe se legkaart bymekaar te bring. Ons vra dat Hy sy wil aan ons openbaar. Ons hoop om ʼn toekomstige scenario te bou sodat die res van ons beplanning daarmee belyn kan word. Dit werk nie altyd so nie.

Ja, breedweg weet ons wat die Here met ons in gedagte het. Die aanwysings van die Bybel is daarvan ʼn aanduiding.

ʼn Godvrugtige lewe in diens van die Koninkryk en in diens van ander.

Daarmee saam ʼn lewe wat meer dikwels ontvou in lyn met die gawes en talente, ook die persoonlikheid wat die Here aan elkeen van ons gegee het.

Daar is kontekstuele rigtingwysers, jy is deel van ʼn  geloof- en kultuurgemeenskap. Daar is ander merkers wat interpreteer kan word en as deel van jou storie identifiseer kan word.

Daar is uiteraard ook stukkies wat jy nie eien nie. Jy mag redeneer dat dit duidelik nie deel van jou lewenstrajek kan wees nie. Dit is dan so anders as jy, jou omstandighede en self verstaan. Dit is so ver verwyderd van hoe jy die lewe voorgestel het en tog.

Die Here sê: “Ek weet wat ek vir jou beplan”. Die groter prentjie is ook daarmee gegee – ʼn toekoms, ʼn verwagting en beantwoorde gebede.

Dalk wil jy nogmaals nadink oor die prentjie van jou lewe. Watter stukke kan jy eien en watter lyk heel vreemd, dalk selfs asof dit aan ʼn ander legkaart behoort?

Vra die Here om jou verstaan te verbreed sodat jy stelselmatig kan begin lyne trek.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.