ToekomsVenster: Waarmee is die Here besig?

(Foto: Anthony Tori/Unsplash)

Ek het gewonder wat sal gebeur as ek my aan wyn oorgee maar tog nog op soek bly na wysheid, as ek soos ‘n dwaas leef totdat ek vasgestel het wat die beste is waarmee ‘n mens hom sy lewe lank in hierdie wêreld besig kan hou. – Prediker 2:3

Dit is ʼn baie belangrike vraag, ʼn vraag wat ons veral in hierdie tyd baie besig hou. Daar is egter ʼn ander vraag wat ewe belangrik is, waarmee is die mens, ons, ek en jy besig?

Die skrywer van Prediker sukkel en worstel met die sin van die lewe, net soos so baie van ons veral gedurende die afgelope paar maande. Waaroor gaan dit dan nou eintlik en wat is die sin van ons bestaan?

In die proses soek hy na sin in baie ander dinge. Hy veroorloof hom alles en weerhou hom van geen luukse en uitspattige nie. Hy gee hom oor aan plesier en besittings en bestudeer selfs filosofiese konstrukte om te kyk of hy nie daarin sin kan vind nie. Tog vind hy geen rus vir sy siel nie.

Uiteindelik na ʼn lang en vermoeiende reis verklaar hy: God het aan die mens ʼn bewustheid gegee van die tydelike en die ewige. Hy verklaar: “God het elke ding gemaak dat dit pas in ʼn bepaalde tyd, maar HY het ook aan die mens ʼn begrip gegee van die onbepaalde tyd. Ek het tot die besef gekom dat daar vir die mens niks beter is as om vrolik te wees en die goeie van die lewe te geniet nie. Dat ʼn mens kan eet en drink en onder al sy arbeid nog die goeie kan geniet, dit ook  is ʼn gawe van God”.

Agter die klaarblyklike onverskilligheid van mense is daar dikwels ʼn soeke na sin en waarheid. “Miskien sal ek sin en betekenis vind deur my met hierdie dinge besig te hou,” redeneer hy. Diep aan die binnekant is daar egter ʼn onrustigheid wat net aangespreek kan word as jy rus vind by God.

Die Prediker verstaan. Hy was op dieselfde trajek.

Waaroor gaan dit aan die einde van die dag? Wat is die sin van die lewe? Hy vind die antwoord by God, en jy, het jy al tuisgekom in God se huis? Volg die Prediker se raad, soek die sin in en by God.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Yvonne ·

Here om naby U te leef dit maak sin in my lewe, elke asemteug is genade , onverdiend.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.