ToekomsVenster: Waarom eer jy jou seuns meer as vir My?

weer-storms-huis-dakloos-versekering

Argieffoto: Blitzmaerker/Pixabay.com

Waarom verag julle my diereoffer en my graanoffer waarvoor Ek voorskrifte in my woonplek gegee het? En waarom ag jy jou seuns belangriker as vir My, deurdat julle julle vet maak met die beste uit al die offers van my volk Israel? – 1 Sam 2:29

Mens hoor van die bykans ondenkbare dinge wat vandag in die naam van godsdiens aan mense aangebied word. Praktyke wat hoegenaamd nie die toets van die Woord van God kan deurstaan nie word aan naïewe mense opgedring.

Die sogenaamde Seven Angels kerk het hul volgelinge nie alleen gemilitariseer en so gesorg vir die dood van vyf polisiemanne en ʼn soldaat nie maar ook jong meisies as seksslawe aangehou. Daar was ook sprake van mensehandel. Wanpraktyke rondom die erediens is egter so oud soos die berge. In hierdie verhaal vergryp die seuns van Eli, Hofni en Pineas hulle nie net aan dit wat God alleen toekom nie maar misbruik die vroue wat rondom die tent van ontmoeting dienswerk verrig. Eli se teregwysing is met traak my nie agtigheid begroet en niks het verander nie. God laat Hom nie spot nie en op die bestemde tyd word Eli en sy seuns tot veranwtoording geroep. Dis ʼn harde uitspraak wat God lewer. Uiteindelik sterf Eli se seuns op die slagveld terwyl die ark van die verbond deur die Filistyne buit gemaak word.

God is die gans andere wat nie op ons eie terme aanbid kan word nie. Hy is heilig en deel met sonde in die heiligdom. Per geleentheid stap Jesus met ʼn sweep onder die handelaars op die tempelterrein in en verjaag hulle met die woorde, my Vader se huis is ʼn huis van gebed. Ons moet versigtig wees om God op ʼn familiêre en onnadenkende wyse te dien en te aanbid. Hy is nie ons eweknie nie. Hy is verhewe en ontsagwekkend groot.

Die optrede van Eli se seuns was waarskynlik die vrug van ʼn opvoeding wat aan dissipline en koersvaste leiding mank gegaan het. Ouers is verbondsmatig verantwoordelik vir die opvoeding van hul kinders. Dis nie iets wat aan n derde party uitgekontrakteer kan word nie. Hoe staan dit in en met jou huis?

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.