ToekomsVenster: Waarom Here?

(Foto: Ümit Bulut/Unsplash.)

Habakuk 1:2-4 – Hoe lank moet ek om hulp roep voordat U hoor, Here, moet ek by U bly kla oor geweld voordat U red? Waarom laat U my die onreg sien wat gedoen word, waarom kyk U toe as daar soveel ellende is? Oral rondom my is daar onderdrukking en geweld, en word daar getwis en gebaklei. Die wet het nie meer krag nie, en daar geskied nie meer reg nie. Slegte mense het die oorhand oor die goeies, en so word die reg verkrag.

In baie opsigte kan 2020 as ʼn “waarom-jaar” getipeer word. Dit sal uitsonderlik wees as jy nie iewers langs die pad die sin en betekenis van onder andere Covid-19 probeer verstaan het nie. Uiteraard is daar net een adres waar jou navraag gerig kan word en dit is by God in Christus Jesus, deur die Heilige Gees.

Ek het gedurende die loop van die jaar baie inskrywings op sosiale media ontvang van mense wat met goeie bedoelings ʼn antwoord en verklaring formuleer vir hierdie wêreldwye pandemie. Dat ons lewens onherroeplik impakteer en waarskynlik verander is, staan soos ʼn paal bo water, vandaar die benaming “nuwe normaal”.

Ou waarhede, verklarings, verstaanshorisonne, selfs teologiese insigte word herbesoek en herinterpreteer. Die wêreld sal nooit weer dieselfde wees nie. Toegegee, daar was ander pandemies in die verloop van die geskiedenis. Miskien het mense wat dit beleef het op dieselfde wyse redeneer as ons nl. dat ons verstaan van die wêreld herdefinieer moet word. Ou sekuriteite werk net nie meer nie en ons soek na maniere om ons werklikheid te verstaan.

Waarom Here?

Habakuk se mooi eerlike verhouding met God laat Hom hierdie vryheid en vrymoedigheid toe. Hy ken die God van hemel en aarde as hoogs ontvanklik, nie net vir die lof en dankgebede van sy kinders nie, maar ook vir die vae wat met vertwyfeling en onsekerheid gepaard gaan.

Wanneer ʼn mens die verse hierbo lees klink dit soos ons konteks hier in Suid Afrika. Die temas wat in die verse na vore kom is temas waarmee ons kan identifiseer. Die interessante is dat Habakuk oor sy eie mense, die verbondsvolk, sg. kinders van die Here, klae. Hy verklae hulle as’t ware by God.

Wat het van die toewyding en lojaliteit geword wat eie is aan God se mense? Waar is die dankbaarheid vir die verlossing wat op soveel maniere na God se volk gekom het?

Die geskiedenis is ʼn wonderbare getuienis van hoe die Here te midde van onsekerheid en uitdagende tye telkemale uitkoms en oorwinning gegee het.

Wat het van dankbaarheid, verbondenheid en die vrug van ʼn lewe deur die Gees geword, sou ons in nuwe Testamentiese terme kon vra?

God staan nie verleë teenoor ons waaromsvrae nie. Ons kan vrymoedigheid neem en met Hom daaroor praat.

Die antwoord wat die Here gee mag nie altyd wees wat ons hoop en verwag nie. Die oorkoepelende beloftes van God se sorg, omgee en verbondstrou egter dra ons op die langduur om in geloof aan Hom vas te hou.

Is daar vandag ʼn “waarom” op jou lippe? Jy kan maar met die Here daaroor praat.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.