ToekomsVenster: Waarom is jy kwaad?

kwaad-donker-alleen-swartenwit

Foto: Pixabay/Pexels.com

Toe sê die Here vir Kain: “Waarom is jy kwaad? Waarom is jy bedruk? – Gen. 4:6

Dit gaan hier oor die vraag wat die Here vir Kain vra nadat dit vir hom duidelik geword het dat die Here Abel se offer aanvaar het, maar nie syne nie. Kain is so vervul met jaloesie en weersin dat hy sy broer doodslaan.

Afguns en jaloesie is afgryslik en dodelik. Dit laat ʼn mens alle perspektief verloor hoe langer jy dit koester en in jou hart laat woning maak.

Jaloerse mense sukkel om introspeksie onder leiding van die Heilige Gees te doen. Hulle is ervare in die kuns van ander verwyt en die skuld gee vir hul ongemak en swaarkry. In stede dat Kain opreg eerlik soek na ʼn antwoord waarom God meer beïndruk is met Abel se offer as met syne kies hy kortpad na afguns en verbittering. Hy verval in depressie en selfbejammering. Wanneer ʼn mens so met die self besig raak is die skrif aan die muur. Die sonde lê en loer sê die Woord. Dit is soos wanneer jy dit die spreekwoordelike pinkie gee dat dit die hele mens in beslag wil neem.

In stede daarvan om ander mense, omstandighede en selfs God te verwyt vir jou ongemak, nooi die Here jou uit om ʼn eerlike selfondersoek te onderneem. Uiteraard is die dinge wat skeefloop in ons lewens nie altyd die gevolg van verkeerde keuses nie. Die lewe is ʼn misterie en somtyds verstaan ons die weë van die Here nie. Wat wel waar is dat as ons opreg soek na antwoorde die Here ons sal ontmoet al is dit net om oor te gee aan die heerskappy van die Here in jou lewe.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.