ToekomsVenster: Waarom neem ons so maklik aanstoot?

vergifnis-02

Foto: Pixabay.com

“…en vergeef ons ons oortredings soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree…” – Matteus 6: 12

Mense is uiters broos en kry maklik seer. Die een terrein waarop die duiwel ʼn stok in ons geestelike wiele steek is rondom die area van vergifnis. Waarom neem ons so maklik aanstoot? Dalk is ons nog te belangrik en vernaam in ons eie oë. Dalk verstaan ons nie wat God in Christus vir ons kom doen het nie en hoe Hy Homself prysgegee het terwille van ander mense nie. Dalk is die eie ek steeds op die troon van my lewe. Elkeen moet homself ondersoek. Maklik aanstoot neem is sonde en verheerlik die Here nie.

Dan gebeur daar inderdaad somtyds dinge wat nie maklik in ons klere gaan sit nie. Dis diep seer en jy worstel dae aaneen om te verstaan waarom daar op ʼn sekere manier teenoor jou opgetree is. Jy probeer vergeet maar die teleurstelling is net te groot. Natuurlik verstaan God beter as wat jy dink. Sou Jesus in sy mensheid nie dalk somtyds by Homself gedink het: Sjoe Vader, dit het baie seergemaak. Ek verdien nie om so behandel te word nie. Ek gee niemand aanstoot nie, maar leef my volmaakte liefde uit onder mense en kyk wat doen hulle.

Ja, Jesus verstaan beter as wat jy dink. En tog het Jesus nooit verbitterd geraak en mense in eie munt terugbetaal nie. Die groot verloorder is en bly die persoon met die wrok in die hart.

Gaan praat met die persoon wat jou teleurgestel het nadat jy uiteraard met die Here daaroor gepraat het. As daar begrip is, spreek jou vergiffenis onvoorwaardelik uit. Indien daardie persoon hardvogtig teenoor jou bly, laat die saak by die Here en gaan aan.

Op die regte tyd sal die Here die deurbraak gee.

Word deel van ʼn nasionale gebedsinisiatief met die volgende kenmerke:

  • Dit is verteenwoordigend van Suid-Afrika se diverse samelewing
  • Dit daag jou uit om jou gemaksone agter te laat
  • Dit bind mense aanmekaar en aan God
  • Dit betrek die hele land

Hemelvaart, 25 Mei, en die tien dae van Pinkster (4 Junie)

  • Daagliks, oral, tydig en ontydig
  • Ook met mense wat jy nie ken nie
  • By die kantoor, kuierplek, sakeonderneming, klaskamer, lesinglokaal, gimnasium, park, oral
  • Veral gedurende die goue uur van gebed
  • Daagliks 12:00-13:00

www.sapray.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.