Broers, as iemand in die een of ander sonde val, moet julle wat julle deur die Gees laat lei, so iemand in ‘n gees van sagmoedigheid reghelp. En pas op: jy kan self ook in versoeking kom. – Gal 6:1
Ek het gister genoem dat sommige mense soms ervaar dat hulle liefdeloos veroordeel is toe hulle verkeerd opgetree het. Soms het ons pogings om mense reg te help op groot pyn en die gevoel van verwerping uitgeloop.
Natuurlik moet ons aanvaar dat dit nooit maklik is om reggehelp te word nie. Niemand hou daarvan dat iemand sonde in sy of haar lewe uitwys nie. Die natuurlike reaksie is dikwels dat ons onsself verdedig. Ons verhard ons harte, want dis moeilik om te aanvaar dat ons verkeerd was. Selfs wanneer iemand met die grootste liefde met my oor my sonde praat, mag my reaksie baie negatief wees.
Paulus skryf aan mense wat onder die beheer van die Heilige Gees lewe (6:1). Hy verstaan dat daar mense in die geloofsgemeenskap is wat soms die spoor byster raak. Galasiërs 5:13-21 maak ‘n hele lys van sonde wat soms in geloofsgemeenskappe voorkom. Die menslike en sondige natuur kry soms die oorhand op ons geloofspad.
Ons kan hierdie mense met harde dissipline probeer reghelp, maar dis nie die gesindheid wat hoort by die mense wat hulle deur die Gees van God laat lei nie. Paulus sê dat daar twee kenmerke is van mense wat ander reghelp.
Eerstens doen ons dit in ‘n gees van sagmoedigheid. Wanneer ons die vrug van die Gees in ons lewe het, vul dit ons met nuwe gesindhede, gedryf deur die liefde (Gal 5:22). Ons harte is sag wanneer ons ander reghelp.
Tweedens doen ons dit met nederigheid, omdat ons weet dat ons ook versoek kan word en val. Dis ook wat die Heilige Gees in ons lewe bewerk. Paulus praat hier van sigbare sonde. Dit kan maklik gebeur dat ons dink dat ons beter as mense is wat so sondig. Nee, ons verhef ons nie bo die sogenaamde ‘sondaars’ wat verskriklike dinge gedoen het nie, want ons het die potensiaal om dieselfde en selfs erger dinge te doen (6:1).
Ons is steeds op weg saam met die Heilige Gees. Net soos ons broer of suster geval het weens die versoeking en hulle sondige geneigdheid, kan ons ook val. Paulus roep ons wat ander moet reghelp om altyd die volgende in gedagte te hou: ‘As iemand hom verbeel hy is iets en hy is niks, bedrieg hy homself. Laat elkeen sy eie doen en late ondersoek: as dit goed is, kan hy daarop trots wees sonder om dit met dié van ‘n ander te vergelyk. Elkeen sal rekenskap moet gee oor wat hy gedoen het’ (6:3-5).
- Bel Drienie by 011 665 2017 of besoek ons by www.toekomsvenster.co.za asook www.toekomsvenster.bybelmedia.org.za vir inligting oor ʼn verskeidenheid stiltetydhandleidings, kleingroep-DVD asook preeksketse vir leraars en gemeentes.