ToekomsVenster: Wanneer gaan ons terug kerk toe?

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Hoe lief het ek u woning, Here, Almagtige! Ek versmag van verlange na die tempel van die Here; met alles wat ek is, wil ek jubel oor die lewende God. – Psalms 84:2-3

Covid-19 het ʼn enorme impak gehad op die wyse waarop ons ons lewens moes inrig. As ʼn mens terugdink aan die pad waarlangs ons ook in Suid-Afrika gekom het, staan ʼn mens verstom dat jy aan die anderkant uitgekom het. Die Here was vir ons goed en die feit dat jy hier lees of hierna luister, beteken dat jou lewe gespaar is. Daarvoor kan ons net in verwondering staan.

In die onlangse verlede staan ek by ʼn erediens waar ek moes optree. Ek is eerlik dat ek teleurgesteld is in die opkoms. So merk ʼn lidmaat op: “Ons werk by die huis en ons kerk by die huis”. Kan ons ʼn bietjie daaroor nadink?

Toe Covid-19 hooggety gevier het, moes ons noodwendig ons eredienste op ʼn ander wyse aanbied.

Dat gemeentes daarin kon slaag om met die verkondiging van die Evangelie voort te gaan deur van sosiale media gebruik te maak, is skitterend. Nuwe vaardighede is aangeleer en die dominee het oornag ʼn tele-prediker geword.

Om nuwe vaardighede te bemeester is ʼn wonderlike ding. Dit het ook aan ander gawes die geleentheid gegee om na vore te tree. Om die boodskap by mense te kon uitbring het inderdaad vir ʼn spanbenadering gevra.

Nou is ons aan die anderkant van Covid-19. Ons is die Here diep dankbaar daarvoor. Sommige sakeondernemings het besluit dat werk en verantwoordelikheid oor ʼn afstand tuis verrig kan word.

Dit het besondere voordele wat ook besparing aan kantoorspasie en ander noodsaaklikhede teweeg bring.

Hierdie benadering het ongelukkig ook nadele. Iets van die persoonlike omgang met ander gaan verlore. Interessant dat mnr. John Steenhuisen gevra het dat parlementêre komitees weer fisies bymekaar kom. Daar gaan iets verlore, niemand kan daarmee stry nie. Die nabyheid van mense maak ʼn verskil.

Eweneens is ek nie oortuig dat eredienste vir altyd aanlyn beleef en beoefen kan word nie. Dit neem ʼn bietjie inspanning om aan te trek en na die plek van aanbidding te gaan. Dit is egter gering wanneer ʼn mens aan die Here se genade dink.

Iets van die korporatiewe lof en aanbidding van die Here gaan verlore. Ek is nie daarvan oortuig dat ons voor ons selfoon of rekenaar of selfs die TV hartlik en onbeskaamd saamsing nie.

Iets van die belewing van die Liggaam van Christus in sy plaaslike gestalte gaan verlore.

Ons is ook by die erediens om mekaar te bemoedig en te ondersteun. Die koppie koffie na die tyd maak tog ʼn verskil.

Daarmee saam kom kinders nie meer by die kategese uit nie. Ouers se verbondsverantwoordelikheid word nie meer nagekom nie. Dit sê tog: “te onderrig en te laat onderrig”.

Jy stem dalk nie met my saam nie. Daar mag ook kontekste wees wat eredienste via die sosiale media noodsaak. Maar is dit regtig ook op jou van toepassing?

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Frank ·

Jannie, die Here maak Homself baie duidelik in Sy woord oor die nodigheid van fisiese erediens bywoning. Jy kon dit gerus maar aangehaal het?

annie ·

Goeie vraag! Miskien moet ons almal, dominees, eerwaardes, leraars en al die ander, onsself afvra wie ons nou dien indien nie die ware Hemelvader met Middelaar, Christus en Heilige Gees as die Derde Groot Wese, nie. Sondae het die ANC se groot politieke vergaderdag en vir grootse begrafnisse geword maar dit hoef ons nie te keer om die Here te dien nie. Ons dominees is self so verwilderd sedert vreemde gebruike nou mode geword het dat hulle eerder bang is vir mense as die Skepper. En ons ander wil nie meer hoor wat die Woord sê nie, eerder soetsappige stories en sielkundige uitklarings.

Frank ·

So, wat het JY gedoen terwyl daar regerings wetgewing was wat Gemeenskap van Heiliges verhoed het?
En dis nie wat die kerk nou wil hê nie, dis wat God wil hê.
Gaan soek ‘n WARE kerk waar God nog die middelpunt van die ontmoeting is.

Gawie ·

Daar is niks wat kan kers vashou by ‘n fisiese erediens nie. Die samesyn met ander gelowiges, lofprysing en aanbidding as ‘n gemeente – dit alles gaan verlore met aanlyn-dienste.
Ek is só dankbaar vir die geleentheid om weer fisies in die kerk te kan sit elke Sondag. Mis dit vir niks!

Anton J ·

Dankie Jannie. Is baie hartseer….. Toe kerke gesluit was het ons as gelowiges gebid, gevra en geroep dat kerke weer moet oop maak. Nou dat die kerke se deure weer oop is, se die predikante het net ‘n gemiddeld van 50% mense terug gekom. Die res verkies aanlyn dienste. Ek hoop dit kan weer verander. Kerk is tog die samekoms van die gelowiges maar ook die plek waar almal welkom moet wees vir hulp, troosting en dissipelskap.

Dawie ·

Baie het die doel van bymekaar kom in die kerk begin mis. Hulle het gekom vir die show, of dat ander hul kan sien of om ge”entertain” te word. Dit moet na die leer en verstaan van die Lewende Woord en die samesyn wees. Die van ons wat kerk toe gaan het baie werk om die om ons weer te verwelkom en nie te veroordeel nie. Ons moet hul in nooi, en warm ontvang.

Racheltjie Debeer ·

So waar, Jannie. Geen aanlyn diens kan kers vashou by die ware Jakob nie, die samesyn van gelowiges rondom die woord van die Here. Mense sal opstaan en aantrek om ure lank in winkelsentrums, flieks en ander vertonings deur te bring, maar dis te veel moeite om kerk toe te gaan. Maar wanneer hul ‘n krisis beleef, dan moet God regstaan en help.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.