ToekomsVenster: Wanneer God se krag in ons ontbreek


Foto: pixabay.com

Foto: pixabay.com

Handelinge 1:8

Maar wanneer die Heilige Gees oor julle kom, sal julle krag ontvang en oral mense eerstehands van My vertel…

Noudat jy jouself tot beskikking van die Heilige Gees gestel het, behoort jy te ervaar dat:

  • Godgegewe krag en energie jou daaglikse bestaan kenmerk.
  • Jy ʼn geestelike kragbron vir ander mense is.
  • Jy vervul is met God se vuur.

WANNEER GOD SE KRAG IN ONS ONTBREEK

Indien jy steeds ervaar dat geestelike beurtkrag en kragonderbrekings in jou lewe voorkom, het jy nodig om jouself af te vra:

  • Hoe prop ek myself 24/7 by God se krag in?
  • Hoe kan die bonatuurlike werking van die Heilige Gees in my geaktiveer word?
  • Hoe leef ek konstant vanuit Heilige Gees se vermoë sonder om moeg en afgemat of ontmoedig te raak?

Elke gelowige behoort ʼn lewe van oorwinning te leef. Ons moet net ontdek wat ons terughou. Miskien help die bygaande inligting jou om nóg beter te begryp wat dit beteken om aan die Heilige Gees te behoort.

DIE GROOTSTE OORSAAK VAN GEESTELIKE TAMHEID

Ons besef nie altyd dat ons lewens onbewustelik opgedeel is in geestelike en sekulêre fasette nie. ʼn Mens moet jou lewe deeglik in oënskou neem voor jy dit agterkom. Meeste Christene beskou steeds geloofsbyeenkomste, Bybelstudie, gebed en aanbidding as geestelik en alles anders as sekulêr. As mens dit doen, gaan jy saans gedaan voel. Niemand kan twee lewens lei sonder om moeg te word nie.

In die Ou Testament en selfs terwyl Jesus nog op aarde was, het die Judaïsme nie onderskei tussen ʼn mens se geestelike lewe en sy/haar sekulêre bestaan nie. Die Griekse denkwyse het hierdie onderskeiding gemaak en vandag is dit algemeen. Indien ons so ʼn onderskeid sou handhaaf, beteken dit dat die grootste gedeelte van ons lewens nie regtig ewigheidswaarde het nie. By implikasie beteken dit dat die meeste van die goed waarmee ons onsself daagliks besig hou nie werklik vir God saak maak nie. Miskien is ʼn terugkeer na die antieke Bybelse verstaan van lewe nou meer nodig as ooit vantevore.

Hierdie gaping tussen die geestelike en sekulêre wêreld het sy ontstaan te danke aan die feit dat ons nie besef dat alles wat ons is en doen, te make het met ons verhouding met God nie. Of ons ontspan of werk, in ʼn verhouding met iemand staan of ʼn ooreenkoms met ʼn vreemdeling sluit, letterlik alles waarmee ons onsself besig hou, het te make met ons verhouding met God. Wanneer ons dít begryp, word die lewe eenvoudig.

Dit beteken ons is 24/7 in verhouding met die Koning van die heelal en die Almagtige is die konstante bron waaruit ons opereer. Hy is nie partymaal naby en dan weer vér nie; of liewer, ons is nie sekere tye nader aan Hom as ander geleenthede nie. Ons leef in ʼn konstante, ewige verhouding met die lewende Here!

TOEWYDINGSMOMENT

Het jy dalk nie besef dat daar geen onderskeid tussen jou geestelike en sekulêre lewe bestaan nie; dat God in alles wat jy dink, kies en doen saam met jou is? Maak nou ʼn bewuste keuse om heeltyd vanuit God se teenwoordigheid te leef.

GEBED

Heilige Gees, ek kies vir ʼn Galasiërs 5:25-lewe. Ek wil heeltyd onder u leiding funksioneer – by die huis én by die werk. Ek kies vir ʼn lewe waarin U voortdurend my gedrag bepaal. Amen.

PRAKTYK

Praat met Heilige Gees oor alles en laat Hóm toe om jou heeltyd sensitief te hou vir God se wil. Onder sy leiding gaan daar nuwe deure oopgaan en geleenthede opduik wat jy self nie kon beding nie, en deure toegaan wat jou skade sou berokken. Onder sy leiding gaan verhoudings herstel word en jy baie verrassings beleef. Jy gaan krag ontvang en vreesloos van Jesus getuig! Geniet die Heilige Gees! Hy is wonderlik! Leef saam met Hom!

ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Peter ·

Dankie vir die afgelope paar dae se fokus op die Heilige Gees as onlosmaakbare deel van die drie-enige God en hoe belangrik Hy is in ons strewe om oorwinning te kan ervaar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.