ToekomsVenster: Wanneer ons Hom verloën het


haan-sonsopkoms

Foto: At0micdrag0n.deviantart.com

Lees: Matteus 26:31-35, 56, 58, 69-75

In die pragtige kerk, bekend as die Church of St. Peter of Gallicantu, net buite die ou Stad van Jerusalem is daar drie aangrypende mosaïekwerke wat die volgende drie temas uitbeeld: “Petrus verloën die Here”; “Die herstel van die verhouding tussen Petrus en die Here” en “Die Here rig Petrus weer op in sy roeping”. Ek wil graag in die volgende drie dagstukkies op elkeen fokus.

Dit sou nooit in sy hart of gedagtes opkom nie … om die Here te verlaat of te verloën. Nooit. Nie Petrus nie. Nie ek nie. Die ander dissipels sou dit nog kon doen of oorweeg. Nie Petrus nie. Sy eie woorde: “Al sal hulle U ook almal in die steek laat, ék sal U nooit in die steek laat nie” (Matteus 26:33). Nie in sy wildste drome het Petrus gedink die vuur rondom daardie binnehof-konka gaan so warm word nie … drie maal: “Jy was saam met Jesus”, “Jy was saam met Jesus” en “Jy is een van hulle. ʼn Mens kan dit aan jou spraak hoor.”
En drie maal ontken Petrus dit. Wel, die eerste maal ontken, die tweede maal ontken en ʼn eed, die derde keer vloek en sweer. Petrus sou dit nooit kon indink dat hy aanstoot sou neem, dat dit vir hom ʼn skande sou wees om met Jesus geassosieer te word nie! Drie maal … en dan nogal met ʼn vloek en ʼn sweer op die einde! En dan kraai die haan ook nog; wat ʼn aaklige herinnering aan die slegste, swakste oomblik in sy lewe. Die rots krummel.

Gebed

Here, solank die haan kraai, kan ek U nie voluit dien nie … herstel my, Here. Amen.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.