ToekomsVenster: Wanneer ons weer die tulband dra


vryheid-perde

Foto: Bhakti2/Pixabay.com

Lees: Sagaria 3

Vanuit die gedeelte kan ons nie aflei watter sonde of oortreding die hoëpriester Jesua begaan het nie. Al wat ons weet, is dat 1) hy daar staan in liederlike vuil klere, en 2) hy daar staan sonder sy tulband. Waar staan hy? Voor die Engel van die Here (Christus), maar ook teenwoordig is die satan, die aanklaer.

Openbaring 12:10 lees: “Die aanklaer van ons medegelowiges … hy wat hulle dag en nag voor God aangekla het.” Die Griekse woord vir aanklaer is katēgoros (κατήγορος), en dit klink amper vir my of ʼn mens die woord kategories daarin kan hoor. Die vyand, die satan, se aanklag(te) teen ons is nie uit die duim gesuig of lukraak nie, dit wil amper lyk asof hy soos ʼn ware aanklaer sy saak teen jou goed voorberei en jou dan kategorie-op-kategorie aankla.

In Jesua se verhaal tree die Engel van die Here dan na vore met die woorde: “Trek uit dié liederlike vuil klere van hom” (:4), en dan gerig aan Jesua: “Ek het jou jou oortredings vergewe en Ek gaan vir jou skoon klere aantrek.” ʼn Mens sal beswaarlik ʼn meer treffende prentjie kry vir die vergewing van ons sonde as dit!

Raak prakties

Iemand het eendag opgemerk dat as ek my wasgoed ophang teen die agtergrond van ʼn grysvaal berg, dan lyk die wasgoed skoon en wit, maar hang ek my wasgoed teen die agtergrond van ʼn berg wat spierwit toegesneeu is, lyk die wasgoed maar bra droewig en vaal.

Waaroor kla die vyand jou op hierdie oomblik aan – of dalk al vir lank? Raak daarvan bewus hoe sy aanklagte jou geestelik lamlê en neutraliseer om die Here se roeping oor jou lewe voluit uit te leef, maar ook hoedat dit jou stroop van die outoriteit/gesag wat die Here aan jou toegeken het om in sy Naam op te tree en te dien.

Iets om oor na te dink

Lees die volgende twee kragtige Skrifgedeeltes en hoor die Engel van die Here se twee uitsprake ook oor jou lewe – Romeine 8:1 & 33-34.

Gebed

Here, ek loof U vandag weer vir die vryspraak en herstel wat U in my lewe bewerk. Amen.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.