ToekomsVenster: Was jy al hier?


helpende-hande

Foto: Sonnenstrahl/Pixabay.com

Ek het alle moed verloor, ek is verslae. – Psalm 143:4

Dis hartverskeurend om by so ʼn plek in jou lewe op te daag, een van totale moedeloosheid en verslaentheid.

Was jy al daar? Kan jy dit in herinnering roep? Wat het daartoe aanleiding gegee? Hoe het jy dit beleef? Het jy angstigheid, depressie, selfmoordgedagtes beleef? Wat het jy met jou gedagtes gemaak? Hoe gemaklik het jy daaroor gepraat? Was jy ook verleë om met iemand te gesels? Het die duiwel jou aangekla, jou vertel dat kinders van die Here nie so behoort te voel nie? Het hy jou probeer oortuig dat jy teruggeval het in die geloof, dat jy vir God ʼn teleurstelling en verleentheid is? Met wie het jy toe gepraat? Hoe het dit gehelp? Watter rol het die Bybel gespeel in jou rehabilitasie? Het jy beleef dat jy nie kan bid nie? Was jy kwaad en gefrustreer? Selfs vir God en die mense rondom jou. Het jy jou onttrek en jouself geïsoleer?

Watter ander vreemde gedrag het na vore gekom? Het jy verwoed begin eet of kos vermy? Wat van jou slaap: Is dit versteur of was jy elke dag net te moeg om op te staan? Is jy tans daar?

Soek vandag nog hulp. Hoë bloeddruk is behandelbaar. Dis gevaarlik om nie daarvan werk te maak nie. Diabetes kan jou ʼn ledemaat kos. Cholesterol kan hartprobleme veroorsaak. So kan ʼn mens aangaan. Emosionele druk kan slegte gevolge hê. Mense verloor totaal perspektief. Daar is mense wat kan help. Maak daarvan gebruik.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Christine ·

Marcelle, God is ‘n waarmaker van sy Woord, Hy het neergebuig en jou hulp geroep gehoor. Mag jy vrede vind in jou hart.

Elizabeth ·

Vir my voel dit asof die Here my vergeet het. As ek ‘n kind van Hom is hoekom laat Hy my solank ly. Ek baklei om my werk terug te kry. Het geen ander inkomste en moet lewe en my verpligtinge betaal. Hoekom laat HY toe dat my dinge so sloer. Ek kan nie meer nie.

Anda le Roux ·

E, elke ware kind van God gaan op een of ander tyd deur dieselfde diep dal van donkertes wat jy nou ervaar. Daar is geen maklike uitkomkans/antwoord nie. Jy is in ‘n smeltkroes waar alle onsuiwerheid uit jou lewe gebrand word. Dis hel, ek weet, ek en miljoene ander is ook daar. Jou denke word vernuwe en net die vuur van intense lyding kan verandering bring. Daar is geen kitsantwoorde nie, herinner Hom aan sy belofte dat Hy jou nooit sal verlaat nie. En ook dat Hy vir jou sal sorg… Lees sy Woord, Hy sál antwoord op die regte tyd. Hou moed, Hy bly getrou!

Koos1 ·

Elizabeth, ek was ook al daar, plat teen die aarde.
Job se verhaal het my daar deur gedra, gaan lees dit gerus weer in die Bybel.
Jy gaan eendag sien, as jy terug kyk, dat God dit met ‘n doel laat gebeur het, om jou geloof te toets. Met die volharding in jou geloof sal God jou weer optel, nuut maak en oorvloedig seën!
Hy vergeet nooit een van Sy kinders nie, maar Sy kinders vergeet Hom baie in hulle doen en late.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.