ToekomsVenster: Wat beteken geloof dan?

sparkler-lig-glo-geloof-hoop

(Foto: Freestocks.org/Pexels)

Toe sê Jesus vir die Jode wat in Hom glo: “As julle aan my woorde getrou bly, is julle waarlik my dissipels; en julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak.” – Johannes 8:31-32

Twee belangrike sake kom in hierdie teksvers na vore. Die toets van dissipelskap enersyds en die belofte wat daarmee saamgaan.

Om te sê dat jy glo en om daadwerklik te glo kan dikwels twee verskillende sake wees.

Woorde kom maklik en woorde verloor betekenis. Jy mag met ʼn woord begin maar hoe langer jy aangaan verloor die woord sy oorspronklike betekenis en bedoeling.

Ons gebruik steeds dieselfde woord maar die inhoud daarvan het verweer. Ons begin eie inhoud, voorbehoude, eie verstaan en kontekste daarin dra. Wanneer die toets kom staan ons of beskaamd dat die woord nie meer sy aanvanklike betekenis gestand doen in ons lewens nie, of ons pas die woord gewoon verder aan.

Wat beteken geloof dan?

Die teks gebruik die woord getrou, en dan getrou aan die Woord van die Here. Jesus is die sigbare vergestalting van daardie woord. Hy het fisies kom wys hoe die Woord in die praktyk van elke dag lyk.

Dit sal ons almal die moeite loon om weer ʼn slag deur die Evangelies te werk en Jesus se voetspoor wat op Golgota eindig, na te speur. Ons mag ontdek dat ook die Jesus wat ons bely en die Jesus van die Woord twee verskillende persone is.

Die toets van geloof sê Jesus is dat sy Woord, sy volle geopenbaarde Woord in ons woon.

Inderdaad is die geloofslewe ʼn reis waarop ʼn mens jouself begewe. In beginsel word jy onmiddellik ʼn burger van God se Koninkryk maar om te leer wat dit in die praktyk van elke dag beteken is ʼn lewenslange reis. Die voorneme van die hart is egter duidelik, eerlik en getuig van integriteit.

Die belofte van dissipelskap is dat die Woord, die Waarheid, ook binne bepaalde kontekste wat uniek aan elkeen se lewe is aan ons bekend gemaak sal word.

In watter mate het hierdie woorde van Jesus al by ons ingang gevind?

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.