ToekomsVenster: Wat dan is die sin van alles?

Argieffoto (Foto: Aperture Vintage/ Unsplash)

“In die begin het God die hemel en die aarde geskep.” – Genesis 1:1 (AFR83)

Ek kyk na die eerste paar minute van ʼn wetenskapsfiksiereeks op Netflix. Ek verloor sommer gou belangstelling, maar iets wat gebeur en gesê word kom by my tuis.

Onthou, dit is net fiksie.

Een wetenskaplike sit voor sy rekenaar, en ʼn mens kan sien hy is oorweldig deur dit wat hy sien. ʼn Tweede kom die vertrek binne en vra wat verkeerd is. “Alles wat ons gedink en geglo het met betrekking tot die wetenskap en die ontstaan van die aarde is verkeerd. Ons het dit heeltemal verkeerd gehad en bevind ons nou in ʼn lugleegte van desperaatheid,” is min of meer wat hy deel.

Die ander wetenskaplike, ʼn vrou, vra: “En God? Enige bewys en aanduiding dat Hy bestaan?” “Nee,” kom die antwoord, “daar is helaas ook geen God nie.”

Dan vra sy: “So wat bly dan oor?” Sy stap weg van die gesprek en neem haar eie lewe.

Sonder God, wat is daar?

Dit is so ʼn belangrike vraag en die relevansie daarvan bly by ʼn mens.

Oënskynlik is daar mense wat sonder God kan klaarkom.

Niemand weet tog wat in die diepste van ʼn mens se psige gebeur nie. Miskien gee hulle net voor, hoe sal ons weet? Op ʼn afstand lyk dit egter asof hulle die bestaan van God volledig ontken, en sou Hy bestaan, hul onafhanklikheid van Hom verklaar het.

Ek kan myself dié manier van lewe nie indink nie. Die lewe is wonderlik, moet my nie misverstaan nie. Ek is nie depressief, moedeloos of onder in die hart van die spiraal van hopeloosheid waarna ons hierdie week verwys het nie. Maar as God uit die vergelyking gehaal word, weet ek nie wat sin gee nie.

Net vir nou hier op aarde? Watter sin het dit?

Swaarkry en uitdagings op ʼn daaglikse basis moet hanteer word, en dan sterf jy, watter sin het dit?

Lief raak vir mense, veral hulle naaste aan jou, ʼn paar trane stort as hulle te sterwe kom en dan is daar net niks verder om te sê nie, watter sin het dit?

Begrawe of veras en die res word deel van die natuur, watter sin het dit?

As God nie daar is nie, what else is there?

Maar nou is Hy daar!

Hoe weet ek dit?

Die getuienis wat ek in my hart ronddra.

Die bonatuurlike sekerheid dat Hy inderdaad bestaan en omgee.

Die verwagting op die ewigheid en die nuwe lewe wat volledig sal aanbreek.

Die liefde wat Hy vir my het en die wyse waarop Hy dit aan die kruis vergestalt het.

As God nie daar is nie, watter sin het alles?

Maar nou is Hy daar, werksaam in ons lewens en in ons wêreld.

Skep moed!

  • Wil jy meer weet oor die ToekomsVenster-projek? Stuur ʼn e-pos aan ds. Jannie Pelser by [email protected] vir nog inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.