ToekomsVenster: Wat doen jy om emosioneel gesond te bly?

(Foto: Juanita Swart/Unsplash)

“Wie met trane saai, sal die oes met gejuig inbring.” – Psalms 126:5 (AFR83)

Om holisties, omvattend gesond te wees, is ʼn tema wat baie aandag verdien het in die media. Ook in die korporatiewe wêreld word daar deesdae baie aandag geskenk aan die welstand van personeel. Dit spreek tog vanself, as ʼn mens gelukkig is in jouself, kan jy en sal jy waarskynlik jou beste lewer.

As dit skort aan die binnekant, sal jou motivering en oorgawe aan jou dagtaak en produktiwiteit waarskynlik daaronder ly. Mense-kapitaal word allerweë beskou as die belangrikste kapitaal wat enige onderneming het.

Personeel is nie net daar om die hoogste wins te verseker nie. Personeel is die eerste adres,nog voordat die verbruiker aan die beurt kom.

Wie sy personeel verwaarloos, is nie ʼn goeie rentmeester nie.

Soos reeds gesê, om holisties, omvattend gesond te wees is belangrik vir ons funksionering in hierdie wêreld.

Ons het gister ʼn bietjie stilgestaan by liggaamlike gesondheid.

Miskien het jy vanoggend daarmee ʼn begin gemaak en ʼn gawe entjie gestap. Baie geluk daarmee.

Ons is veel meer as net ʼn liggaam, ons is liggaam, siel en gees, maar tog drie, duidelik onderskeibare, elemente.

Geestesgesondheid is ʼn tema wat baie aandag verdien, net soos dié van holistiese welwese. Veral na Covid-19-tydvak, tree baie mense na vore wat emosioneel swaar gekry het en steeds swaar kry, wat met emosionele problematiek presenteer.

Om emosionele uitdagings in die oë te staar, is geen skande nie.

As ek tandpyn het, dink ek niks daarvan om by die tandarts uit te kom nie. Mense sal my as dom en astrant beskou as ek ten spyte van hulp wat beskikbaar is, steeds met die ongemak rondloop.

Skielik, wanneer ek ʼn emosionele pyn ervaar, huiwer ek om hulp in te roep.

Ek is bekommerd dat mense sal dink dat daar fout is met my.

Daar is fout met my, my hart is seer en ek het ʼn oplossing daarvoor nodig. Somtyds medikasie, somtyds ʼn terapeutiese gesprek wat perspektief bring, somtyds ʼn verandering in omstandighede, somtyds belangrike besluite wat gemaak moet word, somtyds ʼn tree terug en dan ʼn tree vorentoe.

Die lewe is nie altyd vriendelik nie en vra baie van ʼn mens. Ons leef in ʼn hoogs kompeterende wêreld waar werkloosheid ʼn groot werklikheid is. Wanneer poste geadverteer word daag stapels aansoeke by die adverteerder op.

Werkloosheid onder jongmense is ontstellend hoog. Watter jongmens droom nie oor ʼn kleurryke toekoms nie. So ʼn toekoms kan nie gebou word sonder ʼn betrekking en ʼn goeie inkomste nie. Talle gegradueerde jongmense sit en wag op ʼn geleentheid.

Suid-Afrika het entrepreneurs nodig wat geleenthede sal skep vir die massa jongmense, wat moedeloos en hopeloos voorkom.

Maar dit is nie net jongmense wat emosioneel swaar trek nie.

Suid-Afrika is nie ʼn vriendelike omgewing om in te woon nie.

Op die welsynindeks, wat onder 150 lande ter wêreld gedoen word, meet Suid-Afrika ontstellend laag.

Die vraag is, wat ons doen om emosioneel gesond te bly?

Op watter wyse word ons siel-dimensie gestimuleer?

ʼn Goeie huil af-en-toe is goed vir die gemoed. Om uiting te gee aan jou emosionele ervarings, is deel van menswees. Hoe gouer ons begin eg vertoon in hierdie wêreld, hoe beter vir almal.

Mense assosieer met mense, nie met robotte nie.

Is jy ʼn mens onder mense of skram jy nog weg daarvan om jouself bloot te stel aan ander?

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Leina ·

Dit is so fantasties om na die Toekomsvenster te luister. Sal wonderlik wees as die Dagteks ook so kan wees om na te luister. Dit is die eerste item in die oggend wat net soveel beter in jou siel ingaan as jy daarna kan luister. Dankie Maroela, julle doen wonderlike artikels.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.