ToekomsVenster: Wat gee sin aan jou lewe?

(Foto: Zane Lee/Unsplash)

Ek wil ook nou, soos nog altyd, met alle vrymoedigheid deur my hele wese Christus verheerlik in lewe en in sterwe, 21want om te lewe, is vir my Christus, en om te sterwe, is vir my wins. – Filippense 1:20-21

Om as oorgegee te wees aan die wil van God is bewonderenswaardig. Ek moet nog groei na die plek waar ek so gemaklik oor lewe en dood kan praat. Die lewe is kosbaar en ʼn gawe van God. Die dood is ʼn werklikheid en ʼn noodwendige deurgang na die lewe by God. Met die lewe hier en nou is ek redelik bekend. Baie daarvan is voorspelbaar en ek kan daarvoor beplan. Oor die ewigheid verlaat ek my volledig op die Woord van God. Ja, die Bybel sê 1 Kor.2:9 in “Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor het nie,” en wat in die hart van ‘n mens nie opgekom het nie, dit het God gereed gemaak vir dié wat Hom liefhet.

Ons sal nie teleurgesteld wees nie, inteendeel. Tog is die hier en nou bekend en die lewe hierna eintlik in misterie gehul.

Paulus bevind hom in die gevangenis in Rome en weet nie of hy daar gaan uitkom nie. Hy hoop om die gemeente in Filippi weer te besoek maar dit mag hom nie beskore wees nie. Hy mag met sy lewe betaal vir sy geloofsoortuiging.

Uitsluiting oor sy toekoms het hy nie op hierdie stadium nie.

Hy sê hy is in ʼn tweestryd. As dit van hom afhang sal hy graag by die Here wil wees. Tog is daar baie mense wat op sy leiding aangewese is en vir wie hy nog iets kan beteken. Derhalwe sal dit vir hulle voordelig wees as hy in die lewe bly.

Die lewe, sê Paulus, is Christus.

Hoe sou jy die lewe opsom.

Wat gee sin aan jou lewe? Is dit Jesus?

Die sterwe is wins, sê Paulus. Hy twyfel geensins aan sy ewige bestemming nie. Weet jy dat jou naam geskrywe is in die boek van die lewe?

Die beste wat ek tans kan sê is: ek behoort aan Jesus. Ek sal graag wil lewe en belewe, hier en nou, die lewe is kosbaar. As die Here egter besluit om my spreekwoordelik tot hoër diens op te roep is ek gereed. Ek behoort aan Hom, vir tyd en ewigheid.

Ek is nog nie heeltemal waar Paulus is nie, moet nog groei daarin.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.