ToekomsVenster: Wat het van die beloftes geword?


Foto: Juanita Badenhorst.

Spr. 3:3

NV

3 Moenie dat liefde en trou by jou ontbreek nie; leef daarmee saam, maak dit ‘n deel van jou lewe.

OV

3 Laat liefde en trou jou nie verlaat nie; bind dit om jou hals, skryf dit op die tafel van jou hart,

Die wysheid is steeds aan die woord. Liefde en trou is die sleutelgedagte van die teks.

Liefde vir God en medemens.

Trou aan God se Woord en leiding.

Die vennootskap is duidelik. Dis vonkel en koljander, die een kan nie sonder die ander.

Die een veronderstel die ander. Die een beteken die ander.

Getrouheid het ʼn skaars kommoditeit geword in ons samelewing. Lojaliteit meet laag. Toewyding en getrouheid is nie gewild nie. Dit mag mooi woorde wees maar in die praktyk skiet dit kort.

Ek dink onafwendbaar aan die beloftes wat ons in die loop van die lewe maak. Doopbeloftes , lidmaatsbeloftes, huweliksbeloftes, beloftes wanneer ons in een of ander amp bevestig word.

Beloftes wat ons gemaak het toe ons tot bekering gekom het, toe ons in die nood was en God dringend gesmeek het om te help.

Dit kom meermale tot niks. Dis die papier waarop dit geskrywe staan nie werd nie.

Om dit aan mense te doen is sleg.

Om beloftes teenoor God te verbreek is onvergeeflik.

Besoek die beloftes wat jy al in jou lewe afgelê het weer ʼn keer en dink na oor die integriteit waarmee jy lewe.

Wat het van die beloftes geword?

Bring die verbreking daarvan nederig voor die Here.

Besluit of jy jouself weer daaraan wil verbind.

Neem ʼn kwaliteit besluit. Die Here verstaan beter as wat jy dink maar moenie met Hom mors nie.

Die Bybel sê kom die beloftes wat jy teenoor die Here gemaak het na.

Dis soos ʼn string krale. Dis naby aan jou hart.

Dit maak ʼn appèl op jou optrede.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Duncan ·

Nou gaan iemand een of ander kommentaar lewer oor die beste volk wat God ooit geskape het en kla oor plaasmoorde ;)

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.