ToekomsVenster: Wat is belangrik?

(Foto: Joshua Earle/Unsplash)

Ja, nog meer: ek beskou alles as waardeloos, want om Christus Jesus, my Here, te ken, oortref alles in waarde. – Fil. 3:8

’n Tyd soos hierdie laat ’n mens weer diep nadink oor jou prioriteite, nie waar nie? Ongeag van hoeveel aardse skatte jy het, tref ʼn onverwagse siekte jou soos tans met Covid-19, staan jy bykans weerloos.

My goeie vriend Johan begin stadig herstel nadat hy sommer baie siek was. Sy vrou se lewe het vir drie weke aan ’n draadjie gehang. Hy mag haar nou eers vir die eerste keer in ʼn lang tyd vir ’n paar minute sien. Johan vertel dat daar nie beddens beskikbaar is nie en dat mense met omvattende mediese dekking tuis moet regkom omdat hospitale hulle nie kan akkommodeer nie.

Die groot vraag, “wat is op die ou end regtig belangrik”, kom by my op. Die vraag is lewensbelangrik en ’n vraag waarvoor elkeen van ons ’n antwoord moet formuleer.

Paulus het by ’n punt in sy lewe gekom waar hy kan verklaar, “Jesus en Hy alleen”.

Ek is nie seker dat ’n mens maklik daarby kom nie. Daar is soveel wat rondom ’n mens gebeur, soveel wat ’n appèl op jou tyd en menswees maak, verantwoordelikhede, uitdagings, ook geleenthede wat jou aandag vra.

Baie mense lewe egter asof die hier en die nou die totaliteit van hul bestaan is. Baie leef asof daar van ’n ewigheid geen sprake is nie.

Vir baie is oorlewing van dag tot dag so ’n stryd dat Covid-19 nie eers ’n faktor is nie. As daar honger kinders tuis is wat versorg moet word moet jy doen wat jou hand vind om te doen.

Sjoe, die lewe is lank nie meer so eenvoudig nie.

Feit van die saak is dat die lewe soos ons dit ken, nie die totaliteit van ons bestaan verteenwoordig nie. Prediker leer ons dat daad ’n tyd is om gebore te word en ’n tyd om te sterwe. Hy getuig daarvan dat God aan ’n mens die besef gegee het van wat hy noem die “onbepaalde” tyd.

Ons is nie vir altyd op aarde nie. Iewers vertrek ons. Net dit wat ewigheidswaarde het word die toekoms ingeneem.

Die ou bekende Halleluja-lied, “moet ek gaan met leë hande, moet ek so my Heer ontmoet” kom onwillekeurig by my op. So wil niemand die ewigheid tegemoet gaan nie.

Ons verlang daarna om te hoor, “mooi so goeie en getroue dienskneg en diensmaagd, gaan in die heerlikheid van jou Here”. (Matt. 25:21)

Wat is vandag vir jou onverhandelbaar belangrik?

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.