ToekomsVenster: Wat is die mens?

gras-veld-sonlig

Foto: @gebhartyler/Unsplash.com

“Wat is ‘n mens dat U aan hom dink, ‘n mensekind dat U na hom omsien? U het hom ‘n kort tydjie minder as die engele gemaak; U het hom met heerlikheid en eer gekroon; U het alles aan hom onderwerp.” – Hebr. 2:6-8

Inderdaad, wat is die mens?

ʼn Asemteug, ʼn gedagte, ʼn vlietende verskynsel. Vandag hier en môre weg.

Covid-19 het ons terdeë bewus gemaak van ons eie nietigheid. Wie na en te midde van Covid steeds selfvoldaan, trots en selfgerig lewe, moet blind wees. Ek dink stellig nie dat daar ʼn gesin in Suid-Afrika is wat nie op die een of ander wyse deur Covid geraak is nie.

Covid-19 is maar een van die uitdagings wat na ons toe kom. In die lig van hierdie werklikhede kan ʼn  mens dan tereg vra, wat is die mens dat u aan Hom dink, dat U na hom omsien?

Die gedeelte in Hebreërs kom uiteraard uit die bekende Ps. 8. Ek is seker dit is ook een van jou gunsteling Psalms. Die teks wil soos met ʼn  munt die twee kante van die een waarheid beliggaam.

Stof is jy en tot stof sal jy terugkeer is een deel van die waarheid, inderdaad.

Dan weer, beelddraers, verteenwoordigers van die Allerhoogste, ambassadeurs van die hemel, Koninkryksburgers, gesalfdes, geseëndes, geregverdigdes en gereddes, bevrydes en bemagtigdes.

Kinders van die Here, vriende van Jesus, die Seun van God, erfgename en mede-erfgename. Geliefdes van die Here, ʼn koninklike heiligdom, priesters van die Allerhoogste. Konings, priesters en profete. Geroepenes, gestuurdes, afgevaardigdes.

Dit plaas die vraag, wat is die mens, in ʼn ander kategorie.

Wat is die mens?

Inderdaad, net ʼn  bietjie minder as goddelike wesens, as die engele en dit boonop slegs vir ʼn  termyn. Daar kom ʼn  tyd waarin die mens sal heers, ook oor die engele.

Ek moet erken dat ek bitter min hiervan verstaan, tog bly dit aangrypend en wonderlik.

Jy is kosbaar, ek is kosbaar, ons behoort aan Hom.

Ons uitdagings op aarde is net vir ʼn  kort tydjie. Dit sal ook verbygaan.

Een van die dae sal die Seun van die mens sy verskyning maak en ons in heerlikheid by Homself neem.

Elkeen wat hierdie verwagting het lewe heilig leer die Woord ons. Moet jouself nie minderwaardig ag nie.

Sê wat God sê. Hy sê jy is met eer en heerlikheid beklee.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Frank ·

Oor die engele sal heers???? Nah, Jannie. Ja, ons gaan almal wel krone hê maar daar gaan net een Koning wees wie almal gelyk-waardig gaan aanbid en lofliedere toesing. Niemand gaan oor niemand heers op die nuwe aarde nie.

Yvonne ·

Dankie Here vir elke belofte in U woord….U is nie mens dat U kan lieg nie…Amen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.