ToekomsVenster: Wat is in jou hand?

kind-kierie-loop-stap

Foto: Pezibear/Pixabay.com

Toe vra die Here vir hom: “Wat het jy in jou hand?” “’n Kierie,” antwoord Moses. – Ex 4:2

Hierdie mooi verhaal gryp ʼn mens altyd weer in die hand. Die volk van die Here is vir eeue in slawerny in Egipte. Na bykans 430 jaar besluit God dat die tyd gekom het om hulle te red en te begelei na ʼn nuwe toekoms. Die Here roep ʼn man met die naam Moses, die een wat deur die Egiptiese prinses gevind en aan die paleis versorg is. Op die regte tyd en na ʼn aantal betekenisvolle gebeurtenisse in Moses se lewe is hy gereed om uitdrukking te gee aan God se plan en bedoeling met sy volk. Dit gebeur nie voordat Moses ʼn persoonlike ontmoeting het met die God van Abraham, Isak en Jakob by die brandende braambos nie. Sonder skoene staan hy ontklee van menslike krag en pretensie voor die God wat roep en stuur.

Nadat Moses met die Farao onderhandel het en lg. telkemale op sy woord teruggegaan het gee Farao toestemming dat die Here se volk kan trek. Dit gebeur nadat die eersgeborenes in die land sterf as oordeel van die Here oor Farao se hartsverharding. Moses begelei meer as 600000 manne sonder die vroue en kinders ingetel asook talryke vee en ander besittings na hul nuwe tuiste. Farao kom sy fout gou agter en besluit om die Israeliete te gaan voorkeer voordat hulle die Riet see oorsteek. Juis daar word die volk met die malende watermasse gekonfronteer en besef hulle dat die einde van die kortstondige vryheid aangebreek het. Hulle verwyt Moses dat hy hulle in hierdie penarie laat land het. Moses wil sy lot by God beklae as die Here hom daarop wys dat Hy wat roep ook doen wat Hy beloof het. Moses word aangesê om die staf wat in sy hand is oor die Riet see uit te steek. Die water kloof sodat die volk van die Here droogvoets deurtrek terwyl die Egiptenare in hul aantog in dieselfde watermassa omkom.

Die vraag, wat is in jou hand, is ʼn aanduiding van die toerusting wat God gee. Inderdaad is ʼn nederige en onaansienlike stok nie betekenisvol totdat dit ʼn verlengstuk van die almag van God word nie. Dit mag beskeie en onmagtig voorkom maar in die hande van God as werktuig van gehoorsaamheid en waagmoed gebeur die onmoontlike.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.