ToekomsVenster: Wat is in jou hand?


hande-02-pexels

Foto: Pexels.com

Lees: Eksodus 4:2-3

ʼn Bekende sêding wanneer mense oor roeping praat, is “God doesn’t call the equipped, He equips the people He calls!

Die roeping van Moses is ʼn treffende voorbeeld hiervan. “Wat het jy in jou hand?” vra die Here aan hom, terwyl Moses nog so effens sukkel om aan boord te kom met die missie wat die Here op sy hart het. “’n Kierie,” antwoord Moses. Nou, dalk was hierdie kierie bloot Moses se wandelstok, of meer moontlik die kierie of staf waarmee hy sy skoonpa Jetro se kleinvee opgepas het.

Hoe dit ook al sy, die kierie in Moses se hand was ʼn gewone voorwerp wat hy by hom gehad het. Maar van hier af verder sou dit nooit weer dieselfde kierie wees nie! Eksodus 4:17, “Hou nou die kierie waarmee jy die tekens moet gaan doen, by jou”; so ook 4:20; 7:9,17,19; 8:5,16; 9:23; 10:13; 14:16: “En jy, lig jou kierie op en steek jou hand oor die see uit en kloof dit oop sodat die Israeliete op droë grond kan deurgaan”, en 17:5: “Toe sê die Here vir Moses: ‘Loop voor die volk verby en neem van die leiers van Israel saam. Vat ook die kierie waarmee jy op die Nyl se water geslaan het en stap vooruit. Ek sal daar reg voor jou op die rots by Horeb staan. Dan moet jy teen die rots slaan en daar sal water uitloop vir die volk om te drink.’”

Wat my dus tref, is dat die Here iets baie gewoon gebruik om buitengewone dinge te doen! En, die Here vra nie iets wat vreemd of buite Moses se vermoë of beskikbare hulpbronne was nie, maar alleen om dít wat hy tot sy beskikking het, in diens van die Here te stel.

Raak prakties

Moses staan met ʼn gewone kierie en die seuntjie weer met sy padkos voor die Here. Dit is gewone goed wat ons in ons hande het, maar wanneer dit in sy hande, in sy diens “gegee” word, laat dit die buitengewone gebeur. Wat daarvan as die Here vandag vir jou vra: “Wat is in jou hand?” Sou jy bereid wees om dit weg te gee? … Weg te gee in die verwagting dat, wanneer die Here jou gewone teruggee aan jou, die buitengewone dan moontlik word.

Iets om oor na te dink

Esegiël het nie iets in sy hand gehad om aan die Here te gee nie, hy het net homself gehad om weg te gee. Deurgaans word Esegiël in sy gewoon-wees – “Mensekind” – aangespreek. Maar wanneer hy homself weggee vir die Here, kan die Here iets buitengewoons van hom maak (2:8): “Maar Ek maak jou net so onversetlik as wat hulle is …”

Gebed

Here, ek’s net ʼn gewone mensekind, maar gebruik my buite-my-gewoon. Tot u eer. Amen.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.