ToekomsVenster: Wat is ingeperk?

(Foto: Joshua Earle/Unsplash)

Eers as die Seun julle vry maak, sal julle werklik vry wees. – Joh. 8:36

Ons is reeds weke ingeperk en dit lewer ʼn groot verskeidenheid van emosies op. Ek wou graag ʼn een woord beskrywing wou ontvang van wat jy beleef. Is dit angstig, gefrustreerd, rustig, vreesbevange, opgewonde of dalk vertrou? Gebruik dalk sommer die kommentaarafdeling onderaan hierdie oordenking om jou een woord beskrywing te gee. (Onthou, nie ʼn preek nie, net een woord!)

Inperking is ongemaklik en ʼn mens verlang na bewegings- en keusevryheid. Maar ʼn mens se optrede en reaksie word nie deur die owerhede bepaal nie.

Ons het beheer oor ons emosies en kan kies wat ons ruimte wil gee. Ons is en bly egter mense en niemand wat hier lees het al in die volmaaktheid aangekom nie. Ons is nog hier en word deur aardse realiteite geraak.

Ons liggaamlike bestaan mag ingeperk wees maar niemand kan ons gedagtes, emosies en spirituele belewenis inperk nie. My gees is vry om buite die ingeperktheid van my liggaamlike bestaan te beweeg.

So besoek ek my kinders terwyl ek nie by die hek mag uitgaan nie. So bedink ek die toekoms, ook die verlede sonder dat my gees vasloop teen ʼn gegrendelde voordeur.

Meer belangrik, my gees en God se Gees ontmoet mekaar ruimtelik sonder om die gevolge van fisiese beperking te beleef. Dit mag inhoud gee aan die gesprek wat ek met God het maar dit transendeer die onmiddellike konteks.

Ek praat uiteraard nie ʼn van vreemde buite die liggaam ervaring wat aan die bonatuurlike toegeskryf word en nie Christelik fundeer is nie. Nee, ek is net hier maar ook “daar”.

Ek loop empaties in die stofstrate van informele woongebiede, beleef die onrustigheid van die mense, sien desperate mense hardloop om ʼn kospakkie te ontvang, sien kindertjies pluk aan mammas se klere omdat hulle honger en dors is en ek praat, pleit en vra vir God, hoe ek dit beter kan maak.

Jy is dalk nie so ingeperk as wat jy dink nie. Jy vlieg met arendsvlerke soos die Psalmdigter en die skrywer van Jesaja, en beleef die waarheid van God se Woord.

Julle is tot vryheid geroep. Gaan lees gerus Gal. 5:13 vir ‘n bevestiging hiervan.

Psalms 55:7 – Ek het gedink: ag, as ek maar vlerke soos ‘n duif gehad het, sou ek wegvlieg en ‘n woonplek soek; ek sou ver wegvlieg en in die woestyn gaan bly

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.