ToekomsVenster: Wat is jou naam?

name-naambord

Foto: Flash Bros/Pexels.com

Toe vra die man: “Wat is jou naam?” en hy antwoord: “Jakob.” – Gen. 32:27

Jakob is erg bekommerd wat ʼn ontmoeting met sy broer Esau vir wie hy met die hulp van sy moeder uit sy eersgeboortereg bedrieg het mag inhou. Hy tref reëlings dat ten minste ʼn deel van sy geselskap en besittings behoue bly deur dit in twee groepe te verdeel. Sou Esau in waansinnige aggressie die een groep vernietig kan die ander dalk nog wegkom. Nadat hy sy vroue en kinders oor die Jabbok rivier gehelp het bly hy agter waar hy met ʼn engel van die Here worstel. Jakob gee die stryd nie geredelik gewonne nie totdat hy op die heup geslaan word en mank agtergelaat word. Hy verseg om die man te laat gaan voordat hy nie geseën is nie. Die engel van die Here, die Here self, verander Jakob se naam ( Jakob wat herinner aan die woord vir bedrieër) na Israel, Een wat met God gestry het.

Name is belangrik en ouers doen moeite om ʼn naam vir hul kinders te kies. Die naam sê iets van die persoon en wat daar vir hom weggelê is. Die Bybel sê dat God ons nuwe name gee. Die ou naam wat ons mislukkings en sonde vergestalt word ingeruil vir ʼn nuwe, een wat iets sê van die interaksie wat tussen God en mens plaasgevind het en aanleiding gegee het tot ʼn koersverandering.

Name is dikwels in Bybelse tye verander om iets van daardie ontmoeting te inkorporeer. Hoe het ʼn ontmoeting met die lewende Here jou lewe beïnvloed? Weliswaar is jou naam nie soos dit op jou geboortesertifikaat aangedui word verander nie maar iets van wat met Jakob gebeur het is ook op jou van toepassing. Die Openbaring brief praat van ʼn spierwit klippie met ʼn nuwe naam daarop.

Neem afskeid van die ou naam wat jou lewensloop sonder God beskryf en omarm die nuwe wat God aan jou gee.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Paul ·

Skuus Maroela, maar vandag beteken ‘n naam niks, geveinsd, hardvogtig … draai weg en sê dis nie jou probleem nie, bel hulp … so maklik soos dit.

En, “wat in die ander ou se kop aangaan, is nie my skuld nie”.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.