ToekomsVenster: Wat is werklik belangrik?

(Argieffoto: Balazs Mohai, AP)

Filippense 1:9-10 – Ook bid ek dat julle liefde al hoe meer sal toeneem in begrip en fyn aanvoeling, sodat julle die dinge sal kan onderskei waarop dit werklik aankom.

Paulus maak geen geheim daarvan dat die gemeente in Filippi hom na aan die hart lê nie. Hy lewer ʼn mooi getuienis aangaande hulle veral daarin dat hulle hom in sy gevangenisskap terwille van die Waarheid nie vergeet het nie, maar ondersteun. Hulle is medewerkers in die koms van die Godsryk en vir Paulus ʼn bron van blydskap.

Deel van sy gebed is dat hulle sal toeneem in begrip en ʼn fyn aanvoeling, sodat hulle kan onderskei waarop dit werklik aankom.

Die kerk het ʼn moeilike en belangrike taak in die wêreld. Om ligdraers te wees midde soveel duisternis en verderf, vra ʼn fyn ingesteldheid. Die vraag is, wat is belangrik en wat nie, ook wat is nou belangrik en selfs belangriker as ander dinge.

Ek wil nie vir ʼn oomblik betoog dat die kerk nie oor sekere belangrike sake standpunt mag inneem nie. Gegee die realiteit dat nagenoeg meer as 70 000 mense tans geïnfekteer is en die sterftesyfer by ʼn 1 480 mense draai, lê die sekere gesprekke op die periferie.

Honderde duisende mense verkeer in desperate armoede, kinders moet terug skole toe waar daar geen infrastruktuur is nie, rye wat deur letterlik duisende mense gevorm word wag vir ʼn kospakkie om hulle die week deur te sien.

Die winter is nou hier en soveel mense slaap koud of het geen heenkome nie.

Daarbenewens is daar talle mense wat in wanhoop lewe, vereensaam is en wonder of die lewe die moeite werd is.

Ander gee hulself aan drank oor soos die vrou op die televisie die ander aand wat in die ry staan om drank te koop want in haar eie woorde het sy nie ʼn man nie en is eensaam. Alkohol laat haar vergeet. Vanaand gaan sy drink.

Is daar enige regverdiging daarvoor dat mense in Christelike Suid Afrika met sy duisende geloofsgemeenskappe so vereensaam is dat sy haar aan drank oorgee?

Paulus se gebed is relevant.

Mag Covid-19 ons vrymaak van tydsverkwisting en sinlose ellelange vergaderinge wat mense uitsluit.

Laat God die oortuigingswerk doen. Kom ons bou almal maar net aan die Koninkryk soos Hy ons beveel het.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.