ToekomsVenster: Wat julle ook al doen, doen dit vir die Here

gebed-hand-arm-vingers

(Foto: Dev/Unsplash)

“Wat julle ook al doen, doen dit van harte soos vir die Here en nie vir mense nie, omdat julle weet dat julle van die Here as beloning sal kry wat Hy belowe het.” – Kolossense 3:23-24

Daar is tans ʼn video in die omloop van ʼn seuntjie wat “Die Here het my mooi gemaak” met soveel oorgawe sing en dans. Hy gryp die verbeelding aan en mense is luidrugtig opgewonde oor die pragtige mannetjie, en met reg só. Wat hy doen, doen hy van harte. Daaroor kan daar geen twyfel wees nie.

Die Bybel praat van die lewenshouding wat ons as gelowiges moet openbaar. ʼn “Van harte”-lewenshouding.

Lees gerus Kolossense 3, sommer die hele hoofstuk.

Daar is twee opgawes wat telkens uitgebrei word. Die een ʼn ingesteldheid wat eiebelang nastreef. Dié wyse van optrede strek God nie tot eer nie, is selfsugtig en maak ander seer. Die ander is ʼn lewe onder beheer van die Heilige Gees. Dit kulmineer in ʼn lewe van dankbaarheid.

Hoe dan anders; die skuld, ons skuld, my skuld, is vereffen. Die rekening is betaal. Ek, ons, het saam met Christus gesterf, is saam met Hom begrawe en het saam met Hom opgestaan.

Nie net dit nie, ons het saam met Hom opgevaar na die hemel en sit saam en in Hom aan die regterhand van sy Vader. Ons heers saam met Hom.

Hierdie korporatiewe persoonlikheid (ons in Christus) is oorweldigend as ons die implikasie daarvan begin verreken. Alles het nuut geword, die oue is verby en die nuwe het gekom. Gister is verby en die nuwe dag het aangebreek. Ons is dood vir die verkeerde, maar lewend vir God. Nou doen ons alles van harte soos vir die Here.

Ons dans soos die jongman deur die lewe. Die heupe swaai van opgewondenheid. Ek was verlore, maar deur sy bloed, is daar nou vrede in my gemoed.

Waarmee is jy vandag besig?

Doen dit van harte soos vir die Here.

  • Wil jy meer weet oor die ToekomsVenster-projek? Stuur ʼn e-pos aan ds. Jannie Pelser by [email protected] vir nog inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.