ToekomsVenster: Wat ʼn mens onrein maak

boer windpomp plaas reint dykema (5)

Foto: Reint Dykema.

Lees Matt. 15:10-20

Daarna het Jesus weer die menigte nader geroep en vir hulle gesê: “Luister julle almal hier na My en verstaan dit goed: Niks wat van buite af in ʼn mens ingaan, kan hom onrein maak nie; maar die dinge wat uit ʼn mens uitkom, dít maak hom onrein.”

Toe Hy van die menigte af weer huis toe gegaan het, het sy dissipels Hom oor hierdie beeldspraak uitgevra. Hy sê toe vir hulle: “So, dan verstaan julle dit ook nie? Begryp julle nie dat niks wat van buite af in ʼn mens ingaan, hom onrein kan maak nie, omdat dit nie in sy hart ingaan nie maar in sy maag, en daarna uit sy liggaam uitgaan?”

Daarmee het Hy alle kos rein verklaar.

“Maar,” het Hy verder gesê, “wat van binne af uit ʼn mens kom, dít maak ʼn mens onrein. Van binne af, uit die hart van die mens, kom die slegte gedagtes: onkuisheid, diefstal, moord, owerspel, hebsug, kwaadwilligheid, bedrog, losbandigheid, afguns, kwaadpratery, hoogmoed, ligsinnigheid. Al hierdie slegte dinge kom van binne af en dit maak ʼn mens onrein.”

Jesus is ʼn praktiese leermeester. Hy troef boonop die valse godsdiens van die Fariseërs en skrifgeleerdes wat op uiterlike vertoon staatmaak. Daar was talle voorskrifte wat verband gehou het met wat geëet en wat nie geëet mag word nie. Die Ou Testament bevat verskeie sulke voorskrifte. Dit was seremonieel van aard en het betekenis gehad binne die kulturele opset van die dag.

Jesus keer dinge op hul kop. Hy maak nie erns met randsake nie. Hy hou Homself met die essensie besig. Oppervlakkigheid beïndruk Hom nie. Beuselagtighede verveel Hom. Wat ʼn mens eet of nie eet nie, is onbelangrik. Eet na hartelus. As wat jy eet regtig ʼn broer aanstoot gee, sou jy kon besluit om dit nie te doen waar hy in die omgewing is nie. Dis ʼn goeie gedagte en beleefd, maar nie ʼn voorskrif en wet van Mede en Perse nie.

Wees in jou hart oortuig van die beste optrede te alle tye. Hou ander in gedagte.

Dis wat van binne af uitgaan wat die probleem is. Dit openbaar meer as wat woorde kan sê. Baie mense is vroom oor hul liefde en lojaliteit aan Jesus. As daar egter op hul tone getrap word, kom hul werklike kleure na vore. Jy kan ander nie vir altyd flous nie. Die een of ander tyd word jou karakter of gebrek daaraan ten toon gestel.

Dit beteken nie dat ʼn mens nie soms in ʼn oomblik van swakheid op ʼn manier reageer wat jou getuienis skaad nie. Ons almal het dit al ervaar. Jesus is groter. Daar is geen veroordeling vir diegene wat Hom opreg liefhet nie.

Wat leef binne jou? Dit sal die een of ander tyd uitkom. Praat eerder vroegtydig met Jesus oor jou korrupte hart. Hy kan dit verander

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Eish ·

Die opmerking dat alle kos rein verklaar is deur Jesus wat geplaas is tussen die aangehaalde teks, is foutief. Die kwessie soos altyd met die Skrifgeleerdes, was die wette wat bygevoeg is by wat God self ingestel het. Die kwessie hier gaan oor so n reël naamlik die was van hande . Vers 20 sê baie duidelik : ” Dit is hierdie dinge wat n mens onrein maak; maar om met ongewaste hande te eet, maak n mens nie onrein nie.”
Dit is foutiewelik om te beweer dat alle kos nou rein verklaar is. Die God gegewe opdrag te oor die eet van onheilige diere, soos vark, het steeds gegeld.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.