ToekomsVenster: Wat sou Jesus gebid het?

gebed-hand-arm-vingers

Foto: Dev/Unsplash.com

Nadat Hy (Jesus) die mense weggestuur het, het Hy alleen na die berg toe gegaan om te bid. Toe dit aand word, was Hy daar alleen. – Matteus 14:23

Tye van bediening word opgevolg deur tye van afsondering en verkwikking. Jesus die Seun van God, self God, vind dit nodig en belangrik om eenkant te kom en te bid. Hoeveel te meer ons as doodgewone mense.

Jy mag redeneer dat jy nie in die bediening staan soos dit allerweë verstaan word nie. Bediening is iets wat predikante en pastore doen. Alle gelowiges word geroep en gestuur. Vanuit ons oorgawe aan die Here en op grond van sy uitverkiesende genade ontdek ons die gawes waarmee die Heilige Gees elkeen geseën het. Die bedoeling is dat ons die Koninkryk sal dien en sien kom deur getrou te wees in en met wat aan ons toevertrou is.

Bediening en roeping is uiteraard geestelik van aard maar nie wêreldvreemd en glibberig nie. Dis aards en relevant. Dit is om geloofwaardig en natuurlik kind van God te wees waar jy spasie opneem, by die werkplek, speelplek, kuier en leefplek. Dis tussen en saam met ander mense. Dis lewe in die volle sin van die word. Dis nie “swaar” en moeisaam nie maar voete op die grond en hande in die deeg benadering. Soms getuig jy in woorde maar meer dikwels in dade. Dis praktiese christenskap elke dag.

Die teks maak dit duidelik dat Jesus dit nodig gevind het om tyd in gebed deur te bring. Wat sou Jesus gebid het? Wat sou Hy gevra het en sou Hy raad gevra het by die Vader? Hy was volledig mens en dit is in sy mensheid dat Hy ewe aangewese was op die bemagtiging van sy Vader en die Gees as wat ons is.

Dis moeilik om te verstaan maar dit is onteenseglik waar.

“Gebed is waar die aksie is.” ~ John Wesley

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.