ToekomsVenster: Wat verwag jy wanneer jy bid?


Vergifnis

Argieffoto.

Hand 12:5,12: So is hy dan in die tronk bewaak, maar die gemeente het aanhoudend vir hom tot God gebid. Met dié gedagte is hy na die huis van Maria, die moeder van Johannes wat ook Markus genoem is, waar baie gelowiges saam was om te bid.

Dis wonderlik om aan die ontvangkant van baie gebede te wees. Daar is mense wat ons elke dag voor die troon van God opdra. Iemand het aan ’n Noord-Koreaanse Christen gesê dat baie Christene in die Westerse wêreld vir hulle bid. Die Noord-Koreaan het geantwoord: ‘Nee, ons bid vir julle!’ Gebed vir mekaar is wonderlik!

Petrus se verhaal in die tronk is die verhaal van baie Christene in die wêreld. Dis ’n hopelose situasie. Hy word streng bewaak. Daar is, menslik gesproke, geen kans om te ontsnap nie. Hy het tussen twee soldate geslaap: ‘Hy was met twee kettings geboei, en voor die deur het wagte die tronk bewaak’ (12:6).

Intussen bid die gemeente vir hom. As dit in ons dag was, sou daar waarskynlik e-posse en teksboodskappe uitgegaan het om vir gebed te vra. Petrus se situasie kan slegs deur gebed verander word. Bid asseblief!

God beantwoord die gebed. Petrus word bevry sonder dat enige mens ’n vinger verroer. Al wat hulle gedoen het, was om te bid. Hulle het nie met die owerhede onderhandel nie. Hulle het nie toutjies getrek of lospryse betaal nie. God het alles gedoen. ’n Engel van die Here bevry hom.

Petrus self verstaan nie onmiddellik wat gebeur nie. Toe hy buitekant die tronk staan lees ons: ‘Nou besef ek eers regtig dat die Here sy engel gestuur het om my uit die hande van Herodes te red en van alles wat die Joodse volk van plan was om te doen’ (12:11). Dis ’n verhaal om te vertel! Dis hoekom Petrus onmiddellik na die biddende Christene toe gaan.

Miskien moet ons voordat ons verder gaan eers vra: wat verwag jy wanneer jy vir Christene in moeilike omstandighede bid? Dit lyk vir my dat die eerste Christene wel gebid het, maar nie heeltemal geglo het dat hulle gebede verhoor sou word nie. Toe Petrus klop en die diensmeisie sy stem hoor, was sy verskriklik bly. Die res van die gebedsgroep het egter nie haar entoesiasme gedeel nie: ‘Maar hulle sê vir haar: “Jy is mal.” Toe sy egter daarmee volhou, sê hulle: “Dan is dit sy gees.” Intussen het Petrus aangehou klop. Toe hulle die deur oopmaak en hom sien, was hulle baie verbaas’ (12:15,16).

Verbaas? Verras? Hoekom? Beantwoord God dan nie ons gebede vir mekaar nie?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

neelsie ·

God verhoor gebede as dit volgens Sy wil gebid word.
Hou n gebedsboek byderhand as jy bid en skryf die versoek en – datum neer asook die antwoord, jy sal verbaas wees!

Magda ·

Ek kan daarvan getuig. Ek skryf baie van my gebede neer. Na n paar maande lees ek dit weer. Keer op keer het die Here my gebede verhoor. Onder daardie selfde geskrif dank ek die Here vir die verhoor van my gebede,. GOD IS GOOD

V van jaarsveld ·

Dis tyd dat ons almal saamstaan en vir ons land bid dis al wat sal help

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.