ToekomsVenster: Water as ’n simbool van genade

(Foto: Markus Spiske/Unsplash.)

Ek sal op die kaal bergtoppe riviere laat ontspring, en in die laagtes fonteine laat uitborrel. Ek sal woestyngebied in rietvlei verander, dor land in fonteinwêreld. – Jesaja 41:18

Water is ʼn merkwaardige simbool van genade.

Ons is bevoorreg om n waterfonteintjie in die tuin te hê. Vir so baie lank het ek lopende water in die tuin begeer en toe ons onlangs verhuis het het die Here ons sommer baie bederf.

Woorde om dit te beskryf ontbreek, maar ek dink julle kry die idee. Die water se geluid skep ʼn heerlike rustigheid maar daar is ook n hele klomp energie wat tentoongestel word. Met ʼn klein bietjie chloorbehandeling is die water deursigtig en silwerskoon. Dit is terapie vir die oë en bederf my sommer baie. Ek is inderdaad bevoorreg om hierdie pragtige geskenk in die tuin te mag hê. Uitereraard loop die fontein solank daar elektrisiteit is. Met die baie onderbrekings wat ons in die verlede gehad het het die fontein uiteraard kort-kort tot stilstand gekom. Die water is daar maar daar is geen beweging en energie wat vrygestel word nie. Daar is ook nie die terapeutiese klank wat water wat loop nie.

Ek geniet dit sommer baie om in die natuur te gaan stap en verkies roetes waar daar baie water is. Uiteraard is ek ook lief vir die see en die bruisend en onrustige golwe wat nimmereindigend op die rotse breek is merkwaardig. Sedert die begin van die skepping het daardie energie en beweging nog nie opgehou nie. Selfs Eskom bring nie n einde daaraan nie.

Genoeg om die gedagte dat water ʼn simbool van genade is te onderskryf. Trouens ʼn mens het nie lopende fonteine nodig om jou aan God se genade te herinner nie. Draai net die kraan oop. Maak elke bad of stort ʼn geleentheid om die genade van God te vier en dankbaar te erken. Ons roeping is om soos in Jesus se gesprek met die Samaritaanse vrou self fonteine van stromende water te word.

Daardie gesprek het haar hele lewe maar ook die van haar gemeenskap radikaal verander. Sy het na daardie ontmoeting ʼn getuie geword van die wegwas van sonde, die uitnemende vergiffenis en liefde wat in Hom gevind word.

Soos water reining, reinig die bloed van die Seun ons van alle ongeregtigheid. Ons het nodig om ons noodsaak aan gewas te word te erken en verlangend nader te staan dat die Seun ons kan reinig. Die doop, weereens water, is daarvan ʼn teken.

Miskien sal jy na dese water nie as ʼn vanselfsprekendheid aanvaar nie maar in verwondering voor die Uitdeler van genade kom staan, dalk hande in die lug terwyl jy sing:

“Genade Onbeskryflik groot.

Verlore seun, ʼn wegloopkind

Weer in die Vaderhuis”.

Jesus het haar geantwoord: “As jy geweet het wat God gee, en wie dit is wat vir jou sê: ‘Gee My ‘n bietjie water om te drink,’ sou jy Hom gevra het, en Hy sou vir jou lewende water gegee het.” – Johannes 4:10

ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Blomme ·

Amen…. Wat ń voorreg om water te kan hê wat nie deur mens se hande gemaak word nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.