ToekomsVenster: Weerspieël die heerlikheid van die Here

(Foto: Christopher Sardegna/Unsplash.)

Ons almal weerspieël die heerlikheid van die Here, want die sluier is van ons gesig af weggeneem. Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word. Die heerlikheid wat van ons uitstraal, neem steeds toe. Dit doen die Here wat die Gees is. – 2 Kor. 3:18

Wat ʼn merkwaardige vers, nie waar nie!

Moses se heerlikheid het algaande vervaag. Iewers kon hy die doek van sy gesig afhaal omdat dit, die heerlikheid, van verbygaande aard was.

Die heerlikheid wat in terme van die nuwe verbond gegee word, die wil van God op ons harte geskrywe deur die Heilige Gees, neem toe. Namate ons gesterk word in ons geloof, toeneem in vertroue op Hom, die pad van heiligmaking bewandel, gebeur iets wonderlik.

Ons word al hoe meer vernuwe na die beeld van Christus. Dit is ook van jou waar.

Ons hoef daardie heerlikheid ook nie te bedek nie. Dit is juis daardie heerlikheid wat mense na Christus toe trek. Dit is wat mense laat vra, “wat het met jou gebeur, jy is so anders”.

Dit bied ʼn heerlike geleentheid om te getuig van die hoop wat in jou lewe is.

Almal wat aan Jesus behoort deel in daardie heerlikheid. Dit is mos so dat jy somtyds iemand ontmoet en net weet, hierdie man of hierdie vrou weerspieël die heerlikheid van God. Jy hoef nie eers te vra nie. Dit is duidelik en onbetwisbaar waar. Die Heilige Gees loop met ons die pad. Hy werk die gesindheid en gestalte van Jesus in ons lewens uit. Ons word hoe langer hoe meer vernuwe en verander om aan die beeld van Christus gelyk te word. (1 Joh. 4:17)

“Hierin het die liefde sy doel volkome met ons bereik: ons het niks te vrees vir die oordeelsdag nie, want in hierdie wêreld lewe ons reeds deur die liefde net soos Jesus”.

Luister na die 53 vertaling van hierdie teks: “Hierin het die liefde by ons volmaak geword, dat ons vrymoedigheid kan hê in die oordeelsdag; want soos Hy is, is ons ook in hierdie wêreld.”

Soos Hy is, so is ons ook in hierdie wêreld, elke dag nader aan ʼn geloofwaardige getuie van die lewende Here.

Is daar ʼn ervaring by jou dat God se genadewerk in jou lewe al hoe meer gestalte vind?

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.