ToekomsVenster: Wees bly

Sonneblomme_Colette-Schultz.jpeg

(Foto: Colette Schultz)

Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly! – Filippense 4:4

Die lente is amptelik met ons, en is dit nie louter vreugde nie. Al die seisoene is kosbaar en elkeen het sy besondere aantrekkingskrag. Sommige mense is boonop eerder wintermense as somermense, eerder lief vir herfs as vir die lente. Ek vind dit interessant en amper moeilik om te glo dat ʼn mens die koue, doodsheid en somberheid van die winter kan waardeer maar so verskil ons van mekaar nie waar nie. Ek is onbeskaamd ʼn somermens en die lente is mos die voorspel na die somer.

Lente spel nuwe lewe, moontlikhede en potensiaal. Lente is kleur-, geur- en vreugderyk.

Lente is die seisoen van blydskap, van uitbundige vreugde, van kinderlike uitbundigheid. Lente laat jou dans, tiekiedraai, sommer verspot wees en kanse waag.

God is in die winter, die herfs en die somer maar ek dink God is lente. Die nuwe lewe wat Hy vir en namens ons kom bewerk, het getuig daarvan. Die teken dat lente aangebreek het, is die leë graf. Die dood kon die Messias nie hou nie en na dese ook nie vir ons as gelowiges nie.

Paulus bevind hom in die tronk in Rome en omstandighede is alles behalwe ideaal. Sy bewegingsvryheid is ingeperk alhoewel dit lyk of hy besoekers kan ontvang en briewe skryf. Epafroditos van Filippi, die eerste Christelike gemeente op Europese bodem wat deur Paulus en sommige van sy kollegas gestig is en Paulus het ʼn besondere band.

Lidia die purperverkoopster en ʼn aantal vroue het op die rivieroewer bymekaar gekom waar Paulus hulle ontmoet het. Die getuienis aangaande Jesus het haar diep getref en sy en haar huisgesin is gedoop. So het die gemeente amptelik rondom ʼn vrou uit die gemeenskap ontstaan. Paulus is beïndruk met die gemeente se geloofsvertroue, hul opregte vroomheid en gewilligheid om hom in sy omswerwinge by te staan. Epafroditos bring juis ʼn geldelike bydrae om voorsiening te maak vir Paulus se behoeftes. Na ʼn ernstige siekbed word Epafroditos teruggestuur na sy tuisgemeente met die brief wat Paulus aan hulle gerig het.

Die brief is ʼn blydskapsbrief, ʼn lentebrief.

Omstandighede bepaal nie ons vreugde nie. Ons blydskap is in Christus en dit sê alles.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Frank ·

Ja, Jannie, lente WYS die nuwe lewe, Maar die kurkdroë, dorre, stowwerige, gryse winter het die BELOFTE van nuwe lewe. As jy hier in die Bosveld loop en jy kyk na al die grysheid, dan WEET jy daar lê nuwe lewe in opgesluit wat net vir die Here se bevel wag om tevoorskyn te kom in al sy glorie, heeltyd sluimerend wag dit. Ek sien onder andere die parallel met die ou mens wat sy sondes aflê en nuut in Christus word. Vir sy ewige somer in Jesus.
Terloops, eks ook ‘n somer mens.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.