ToekomsVenster: Wees bly regverdige

Foto: Aaron Burden/Unsplash

Wees bly in die Here, regverdiges, prys sy heilige Naam. – Psalms 97:12

Die Psalmdigter, ja digters, het dit nie altyd maklik gehad nie. Die Psalms word gekenmerk deur ʼn ontstellende eerlikheid. Die swaarkry waarmee die digter gekonfronteer word, is somtyds tasbaar. Jy ervaar hoe die persoon sy hartseer, vervreemding, trauma en gevoel van verwerping, eerlik voor God se voete lê.

Dan weer word die bundel gekenmerk deur uitbundige vreugde.

Baie gelowiges sal reken die Psalm is nie vir hulle bedoel nie, dit is immers aan die adres van “regverdiges” gerig. Terdeë bewus van ʼn mens se worsteling om die pad van die geloof konsekwent te loop en die baie keer wat jy die Heilige Gees bedroef, voel jy dat jy nie so arrogant kan wees om jouself ʼn regverdige te noem nie.

As hierdie teks nie op gewone mense gerig is nie, vir wie is die boodskap dan?

Ken jy dalk mense, gelowiges, wie se lewe in alle opsigte ʼn voorbeeld van gehoorsaamheid, dankbaarheid, geloof en diensbaarheid is?

Net ʼn bietjie eerlike gesels sal die teendeel na die oppervlak bring. Ons almal sukkel. Daar is een regverdig nie verklaar die Skrif – nie een nie tensy daardie eretitel jou toegeken word op grond van iets anders as jou voorbeeldige en Godvresende lewe.

Daarmee bedoel ek nie dat ʼn mens maar uit onverskillig kan lewe en verwag dat God daarmee genoeë moet neem nie, inteendeel. Maar as jy eerlik is in jou voorneme om die pad van die geloof te stap en die Gees toelaat om jou op die pad van heiligmaking te begelei, is die titel “regverdige” eweneens op jou van toepassing.

Regverdig, nie omdat ek iets gedoen het of doen nie maar regverdig omdat Hy, Christus Jesus ons Here, ons sonde op Homself geneem het. Hy het die prys volkome en volledig betaal. Wie in Christus is, is ʼn nuwe wese. Die ou dinge het verbygegaan en alles het nuut geword.

Dit is mos genoeg rede om jou entoesiasties aan te sluit by die koor van dankbare mense. Dankbaar vir die verlossing en dankbaar vir die status van regverdige.

Ja, die teks is inderdaad op jou van toepassing.

Die oproep om bly te wees word aan jou adres gerig.

Wees bly regverdige, Jesus het klaar betaal.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.