Wees dankbaar vir die voorreg om te kan lewe en werk.
Dankbaarheid is een van die uitstaande kenmerke van ʼn gelowige se lewe. Dankbare mense weet dat alles net genade en derhalwe onverdiend is.
Sulke mense is nie arrogant en selfgerig nie. Hulle is nederig en toeganklik en benader ander nie vanuit die hoogte nie. Dankbare mense weet daar is letterlik niks wat betekenis het wat hulle nie ontvang het nie. Hulle besef dat hulle rentmeesters is en dat daar rekenskap gevra gaan word oor wat hulle met tye en geleenthede gemaak het. Die lewe is ʼn allegaartjie van belewenisse. Die Prediker sê dit is genade dat ʼn mens kan eet en drink en vrolik kan wees. Neem ʼn oomblik en lag sommer uit jou maag oor die onbesonne dinge wat jy hierdie jaar aangevang het. Vergewe jouself daarvoor en dank God dat sy genade jou dra.
Kolossense 3:15 – En die vrede wat Christus gee, moet in julle lewens die deurslag gee. God het julle immers geroep om as lede van een liggaam in vrede met mekaar te lewe. Wees altyd dankbaar.
Kolossense 4:2 – Volhard in die gebed! Wees daarby waaksaam en dankbaar
1 Tessalonisense 5:18 – Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag.
- ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za