ToekomsVenster: Wees elke nuwe dag ons krag

(Foto: Simon Berger/Unsplash)

Wees ons genadig, Here, ons vestig ons hoop op U. Wees elke nuwe dag ons krag, ons redding in tyd van nood. – Jesaja 33:2

Vandeesweek se tekste het die woorde “nuwe dag” in gemeen. Gister het ons die wonder van ʼn  nuwe dag van nader beskou.

Uiteraard kry ons nie aan die begin van elke dag ʼn  klaar uitgewerkte skema wat aandui presies hoe die dag sal verloop nie en hoedat ons die unieke uitdagings wat elke nuwe dag bring kan tegemoet gaan nie. Ons is selfs van oomblik tot oomblik nie seker wat die dag sal bring nie.

Meermale is die dag vol verrassings. Sommige positief en ander uitdagend. Sommige hanteer jy sommer so in jou op weg wees. Ander ontstel en ontsenu jou tot so ʼn  mate dat dit tyd neem om tot verhaal te kom. Sommige uitdagings is so negatief dat die res van jou dag bederf is. Dit neem ʼn  langer tyd om van die impak van die gebeure ontslae te raak. Somtyds neem dit selfs ʼn paar dae om tot verhaal te kom.

As dit goed gaan is dit nie moeilik om die Here se teenwoordigheid te bely en te beleef nie. As dit nie goed gaan nie is dit somtyds uitdagend om Hom in jou omstandighede raak te sien en die geloofwaardigheid van sy beloftes ter harte neem.

Ons vergeet om, wanneer dit goed gaan te vra, waarom Here? Wanneer dit sleg gaan is dit gewoonlik die eerste gewaarwording. Waarom gebeur dit met my? Het ek God teleurgestel? Waarom het die Here my nie voorberei hierop nie en hoe moet ek die gebeure interpreteer?

God is net so teenwoordig in die slegte as in die goeie. Dit maak van die sogenaamde slegte iets anders. Dit maak van die uitdagende ʼn leerskool, ʼn groei geleentheid, ʼn geleentheid om ʼn voorbeeld te stel van hoe kinders van die Here uitdagings hanteer.

Kyk weer na die teksgedeelte. Bid hierdie woorde: “Wees ook vandag my redding en krag, selfs te midde van nood”.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.