ToekomsVenster: Wees onselfsugtig

(Foto: Marcus Dall Col/Unsplash.)

Fil. 2:1-4 – Aangesien julle die troos in Christus ondervind het, die aansporing deur die liefde, die gemeenskap deur die Gees, die innige meegevoel en meelewing – maak dan nou my blydskap volkome deur eensgesind te wees: een in liefde, een van hart, een in strewe. Moet niks uit selfsug of eersug doen nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself. Julle moenie net elkeen aan sy eie belange dink nie, maar ook aan dié van ander.

Stel jouself vir ʼn oomblik voor dat die hele wêreld besluit om die gesag van God se Woord te erken en daarvolgens te lewe. Natuurlik is dit wensdenkery maar net terwille van die oefening laat jou verbeelding met jou op loop neem.

Oral bekeer mense hulle hulle tot God. Hulle bely hul sondes en bind sy vergifnis aan hul harte. Hul gaan terug op hul spore en maak reg wat verbrou is.

Luk. 19:8 – “Maar Saggeus het opgestaan en vir die Here gesê: “Here, ek gaan die helfte van my goed vir die armes gee, en waar ek iets van iemand afgepers het, gee ek dit vierdubbel terug.”

Huwelike herstel, die tronke loop leeg. Gebrokenes vind troos en soekendes vind antwoorde. Die kerk word weer vol en lofsange vul geboue. Huisgesinne vind mekaar en ouers en kinders leef in harmonie.

Trouens met verloop van tyd word die agterstand van en by mense uitgewis en elkeen vind ʼn plekkie waar hy of sy volledig mens kan wees en roepingsvervulling kan beleef.

Sjoe, dit klink soos hemel op aarde. Dit klink te goed om waar te maak en dan weer.

Hoe verander gemeenskappe, gesinne, samelewingsverbande, groepe? Waarskynlik een persoon op ʼn slag. Maar eksponensiële groei beteken dat twee vier word en vier sestien as elkeen doen wat aan hulle gedoen is.

Droom ons nog van ʼn wêreld waarin die Koninkryk van God met krag inbreek en deurbreek of het ons so gewoond geraak aan die gebrokenheid, hartseer en onreg van hierdie wêreld dat ons onsself niks anders kan voorstel nie?

As ek die Bybel reg lees is dit in elk geval die plek en situasie waarheen ons op weg is. Daar kom ʼn dag dat Jesus op die wolke sal kom, die boeke geopen sal word en elke mense sal ontvang waarvoor hy homself beywer het.

1 Korintiërs 15:28 – “Wanneer alles dan aan die Seun onderwerp is, sal Hy Hom ook self onderwerp aan die Vader wat alles aan Hom onderwerp het. So sal God alles wees vir alles”.

Die heerskappy sal aan die Vader oorgegee word en God sal vir altyd by ons bly. Die hemelse Jerusalem sal by ons kom woning maak en daar sal weer ewige ongestoorde en onveranderlike vrede heers. Intussen doen ons wat ons kan. Een wen nog een vir die Koninkryk. Dit is hoe God werk.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.