ToekomsVenster: Weg sonder om te groet

geel-blomme

Foto: Elektrosmart/Pixabay.com

“O dood, waar is jou oorwinning? Dood, wat het van jou angel geword?” – 1 Korintiërs 15:55 (NLV)

Baie jare gelede, is my pa op die 1ste September oorlede.

Ek was by ʼn bidgeleentheid en toe ek niksvermoedend by my woonstel aankom het tannie Cora, my buurvrou, my strompelend en ontsteld tegemoet geloop en sonder omhaal van woorde gesê: “Jy moet huis toe gaan, jou pa is dood”.

Sy het haar ontstellende koue opmerking dadelik probeer kwalifiseer en ligter maak maar ek het geweet wat ek weet, pa is dood. Tog het ek gehoop, dalk, miskien, dalk net…

Ek het huis toe gejaag en die res van die gesin in trane aangetref. Die oomblik was te groot en ek het straat afgehardloop en my pyn uitgesnik en uitgeskreeu.

So twee jaar later, toe ek op pad was na ʼn afspraak ver van my woonplek af, het weemoed skielik op my toegesak. Ek het na my pa, wie se naam ek nie in geselskap kon noem of oor wou hoor nie, verlang. Die seer was vlak en onverwerk.

Sonder voorbereiding het my hart agter die stuurwiel gebreek en het ek met pa gepraat. “Waarom is jy weg sonder om te groet,” was al wat ek kon uitkry. Ek was kwaad, bitter kwaad en het dit vir hom gesê.

Dit is ook waar die genesing gekom het. Hierdie uitpraat met pa, Martin, alhoewel hy nie geantwoord het nie. Die Trooster was egter wel daar en het die berusting en genesing gebring wat ek nodig gehad het.

Op sy graf staan: “Hy wat voortlewe in die herinneringe van hulle wat lewe, het nooit gesterf nie”.

Pa is vooruit, ma, ouma Hester, oom Chris, tannie Nakkie en oom Daars ook. Ook my broer Tinus en sus Hettie, en ander. Hulle leef voort in my gedagtes. Met hulle was die afskeid nie so dramaties soos met pa nie.

Ek wonder waarom?

Maar, ons sal mekaar weer sien.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Rina ·

My dogter is 30 Julie weg sonder om te groet. In my 48 jaar op aarde was ek nog nooit so kwaad, verlore en eensaam nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.