ToekomsVenster: Wegkyk is makliker

(Foto: Clay Banks/Unsplash)

“Maar ʼn Samaritaan wat op reis was, het op hom afgekom, en toe hy hom sien, het hy hom innig jammer gekry.” – Lukas 10:33 (AFR83)

Ons het mos ʼn manier om weg te kyk wanneer daar nood is.

Dit is daardie ongemaklike kyk na die bedelaar op die hoek van die straat. Jy is bang om oogkontak te maak, omdat hy jou vir iets gaan vra wat jy reeds by die vorige verkeerslig gegee het. Jy hoop dat die lig sommer gou na groen sal oorslaan, sodat jy kan wegkom van die gebreekte bord met dieselfde nood daarop uitgeskryf.

“Kinders om te versorg.

Kry nie werk nie.

Sal enige werk doen.

God seën.”

Nou ja, ons kom ook nie van gister met hierdie fenomeen saam nie. Of die bedelaar by die verkeerslig regtig gemotiveerd is om enige werk te doen, is ʼn ope vraag. Die praktyk het al geleer dat hierdie verkeersligte somtyds redelik goed betaal. Dan weer is daar mense wat teen die grond is en om te onderskei is ʼn redelike uitdaging.

Mense wat weet raai Jan Publiek aan om eerder aan ʼn verdienstelike organisasie te gee en te weet dat jou skenking verantwoordelik aangewend word. Dit neem nie die ongemak wat jy by dié verkeerslig, en die volgende, en die volgende, beleef nie. Ek reken ʼn mens moet maar doen soos jy in jou hart oortuig is.

Ek moet darem byvoeg dat dit die mamma by die verkeerslig is met ʼn baba op haar rug of ʼn peuter wat gevaarlik naby aan die verbygaande verkeer speel wat my intens raak. ʼn Mens hoor erge stories van hoe daardie vroue met klein kindertjies misbruik word om vir ander te bedel. Ek voel somtyds of ek die babas en kleuters kan oplaai en iewers kan gaan grootmaak.

Die vraag is of ons bereid is om ten minste die menswaardigheid van die man en vrou op die hoek te erken. Hulle mag ons frustreer. Ons mag ons bedenkinge hê. Maar ʼn mens kan skouerophalend aandui dat jy vandag nie kan help nie en steeds ʼn glimlag op jou gesig hê.

Jy kan pakkies skyfies in grootmaat koop en uitdeel. Dis verspot goedkoop. Met die wegryslag sien jy dikwels hoedat daardie pakkie onmiddellik oopgeskeur en die inhoud geniet word.

Dis beskeie, maar dis iets.

Dis min, maar dit sê ek erken jou as ʼn medemens in nood.

Dis weglaatbaar klein, maar dit vind woning in ʼn hart wat dalk baie stukkend is.

Ek stem daarvoor dat ʼn mens gee waar dit verantwoordelik aangewend sal word.

Hier en daar neem iemand jou kwalik as jy nie gee nie.

Dit is hulle probleem.

Die minste wat ons kan gee, dit kos niks nie, is ʼn menswaardige glimlag, “mooi dag”, “jammer ek kan nie help vandag nie”, “hoe gaan dit met jou”, “miskien môre”.

Ek erken – ek sukkel nog daarmee.

En jy?

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.