ToekomsVenster: Welkom in ’n nuwe jaar

Foto: Danil Aksenov/Unsplash.com

Met u hulp loop ek ‘n oormag storm, met my God by my is geen stadsmuur vir my te hoog nie. – Psalms 18:30

Ek is dankbaar vir die geleentheid om andermaal weer saam met jou te kuier. Weet nie van jou nie maar ek is ʼn entoesiastiese koerantleser en volg die nuus op TV. By die gimnasium skakel ek in op CNN of Sky News om te sien wat in die wêreld aan die gang is. My radio draai op die uur na die naaste radiostasie ten einde die jongste in wêreldgebeure te verneem. Ek lief besprekingsprogramme en skryf selfs af en toe my mening na ʼn dagblad.

Sommige mense sê nuus ontstel hulle en hul wil liefs nie daarmee gekonfronteer word nie. Dit is so dat ons in ʼn erg ontwrigte wêreld woon en dat daar soveel gebeur wat ʼn mens moedeloos stem. Tog is daar oral sprankies hoop en tekens van lewe. Dit kan ook nie anders nie omdat die Gees van die Here steeds betrokke is by hierdie werklikheid, in en deur die lewens, getuienis en optrede van God se kinders. Ons is immers ligdraers en duisternis is die ideale ruimte waarbinne ons aan ons roeping kan uiting gee. Ons is sout, en die bederf waarmee ons elke dag gekonfronteer word, herinner ons waarmee God ons as sy dissipels vertrou.

Die nuwe jaar lê voor ons oop en niemand leef nie in ʼn vakuum nie. Ons getuienis moet grond raak soos een van Toekomsvenster se stiltetyd-handleidings heet – “Grondvlak Christene”. Terloops, loer gerus hier aan die begin van die jaar na die uitnemende materiaal wat beskikbaar is om jou op jou reis deur 2020 te begelei. Die adres is Toekomsvenster.co.za.

Terug na my opmerkings oor nuus en wêreldgebeure. In die volgende dae gaan ons met ʼn fyn ingesteldheid probeer raak hoor hoe en waar die Evangelie, God deur sy Gees aan die werk is in hierdie teenswoordige tyd. Dit is veral van toepassing op ons land Suid Afrika. Die gevaar is groot dat ons in desperaatheid kan handdoek ingooi maar dit is ʼn luukse wat God se kinders nie beskore is nie.

So welkom in 2020 en mag dit ʼn merkwaardige nuwe jaar vir jou en jou mense wees.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.