ToekomsVenster: Werk vir geregtigheid, vryheid en vrede

Bewaar die vrede só in julle huwelik. (Foto: Tamara Menzi/Unsplash.)

Gedurende hierdie week aandag gee aan die sogenaamde “Fourfold Franciscan blessing” geskryf deur ʼn Benediktynse suster Ruth Fox van Sacred Heart Monastery vir ʼn gradeplegtigheid in Dickinson State University in 1985. Die Afrikaanse verwerking is deur dr. Johann Voges. Ons gee elke dag aandag aan een van die bedes. Vandag –

Mag God jou seën met heilige woede oor onreg, onderdrukking en uitbuiting van mense… sodat jy die eerste een sal wees wat werk vir geregtigheid, vryheid en vrede tussen al die mense om jou.

Daar is soveel ongeregtigheid in ons wêreld. Net elke dag se luister na die nuus op radio, TV of lees in die koerant maak jou daarvan terdeë bewus.

Sommige mense verkies om hul blind en doof te hou vir die werklikhede van ons dag. Dit steur hul vrede word gesê en derhalwe verkies hulle om nie betrokke te raak nie.

Toegegee, ons elkeen se roeping en aanvoeling verskil en ons moet uitvind waar en hoe die Here ons wil gebruik.

Ek is tog van die oortuiging dat ons elkeen ʼn “profetiese” verantwoordelikheid het en nie mag stilbly oor die onreg in hierdie wêreld nie. Immers ons is mos priesters, profete en konings, dan nie?

Priesters dien ander, konings heers oor die verkeerde en profete vestig mense se aandag solidêr op die dinge wat moet verander. Jou profetiese stem mag nie ʼn “kritikasterigheid” wees oor alles wat verkeerd is nie.

Ons verwys na die standaard gesprekke wat meermale deel van ons braaivlies saamkuier is. Dit dien meer dikwels geen ander doel as om die tyd om te kry nie. Dit verander niks nie en dra niks by om die situasie beter te maak nie.

So ʼn saamgesels behoort na regtens uit te loop op die oorweging van strategieë oor hoe die omstandighede verander kan word.

Een voorbeeld is bv. om self die gat in die pad voor jou huis reg te maak. Dit nadat jy die owerheid by herhaling gevra het om daaraan aandag te gee. Daar is baie voorbeelde van waar gemeenskappe self inspring en verantwoordelikheid aanvaar vir hul omgewing en dienste wat daarmee verband hou.

Dink ʼn bietjie “uit die boks” soos wat gesê word en vra hoe die Here jou wil gebruik om die lewensomstandighede van die mense rondom jou te verbeter.

Uiteraard is “stem” wanneer die geleentheid daar is deel van jou profetiese verantwoordelikheid. Sommige mense bly doodgewoon weg en blameer dan die owerheid dat dinge nie verander nie.

Ek glo dat gebed oor ʼn wyse is waarop jy jou profetiese verantwoordelikheid beliggaam. Praat met die Here oor die goed wat jy sien verkeerd is en vra Hom om, ook deur jou ʼn verandering te weeg te bring.

Onreg, onderdrukking en uitbuiting van mense, dit klink soos Suid-Afrika. Geregtigheid, vryheid, vrede moet daarom deel van jou verantwoordelikheid wees

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.