ToekomsVenster: Wie het jou mond gemaak?

luister-na-God

Foto: Urbangospelentertainment.com

Daarna sê die Here vir hom: “Wie het aan die mens ‘n mond gegee? Wie maak stom of doof of siende of blind? Is dit nie Ek, die Here, nie? – Ex 4:11

Die Here besluit vir sy eie redes dat die tyd aangebreek het dat sy volk van slawerny verlos sal word. Dit nadat die Farao so ongenaakbaar as wat hy is opdrag gegee het dat die werkslading van die Israeliete verder uitgebrei moet word. Hul roep en versugting word simpatiek deur die Here aangehoor wat in beweging kom terwille van sy mense en die beloftes wat Hy reeds gegee het. Israel is en moet instrumenteel wees in die gestaltegewing aan die belofte van ʼn talryke nageslag soos die Here aan Abraham beloof het. Hulle gaan ook geboorte skenk aan die Messiasseun wat sy volk van hul geestelike slawerny gaan verlos.

Moses kry opdrag om met Farao te onderhandel maar bied verskonings een na die ander aan. Sy verweer is dat hy nie kan praat nie. Menslike stottering is geen belemmering vir en by God nie. Die Here vra vir Moses wie aan die mens ʼn mond gegee het. Die antwoord is uiteraard dat God die Skepper van alles is.

Die een wat ʼn mond gegee het kan daardie mond in diens neem. Die een wat die mond gegee het, het reg op die gebruik en aanwending van daardie mond. Moses volhard egter met sy verskonings totdat die Here toegee dat Aaron as woordvoerder as optree. Ook daarin sien ons die Here se verdraagsaamheid en genade.

Verskonings maak geen hond haaraf by die Here nie. Trouens, ons wil nie die risiko loop dat God kwaad word soos met Moses nie. Om aan God reg en toegang te gee tot ons veelvoudige en unieke fakulteite word ons uitgenooi na ʼn avontuur saam met Hom. Hy word nie beperk deur menslike beperkinge nie. Moses kon sy sg. spraakgebrek ʼn handige en waardige instrument in die hand van God gewees het. Alhoewel die Here toegee was sy oorspronklike beplanning dat Moses doodgewone gehoorsaamheid sou toon. Dis in elke geval te betwyfel dat Moses wat aan Farao se huis grootgeword het regtig so ʼn spraakbeperking gehad het en of dit nie bloot onwillige vreesagtigheid is wat as verskoning aangebied word nie.

Watter verskoning het jy om nie te doen wat die Here jou opdra nie?

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.