ToekomsVenster: Wie het vir jou gesê?

appel-rooi

Foto: Congerdesign/Pixabay.com

Die Here God vra toe: “Hoe het jy te wete gekom dat jy kaal is? Het jy tog nie van die boom geëet waarvan Ek jou verbied het om te eet nie?” – Gen. 3:11

Die verhaal is bekend. Adam en Eva het God se gebod oortree. Hulle is verteenwoordigend van die hele mensheid. Dit help nie om hulle te verwyt vir die skuld waarmee ons leef nie. Elke mens staan voor dieselfde uitdaging. Moenie toegee aan die versoeking en verleiding van die bose nie. Dit kom in verskillende gestaltes. Dit kom dikwels subtiel en vermom. Mens het onderskeiding en ʼn Gees aanvoeling nodig om die bose se slinkse aanslag te fnuik. Dit kan net in die krag van die Heilige Gees plaasvind.

Adam en Eva word met hul onvermoë gekonfronteer. Naaktheid is ʼn metafoor, dit dui op ʼn mens se gestroop van enige selfregverdiging. Adam en Eva probeer die skuld vir die keuses wat hulle gemaak het soos mense deur al die eeue te verskuif. Iemand anders moet die blaam dra. Adam verwyt vir Eva en sy die satan. Die mens wat sonde doen staan egter skuldig voor God. Die vraag is retories. God weet alles. Die Here wil seker maak dat Adam verstaan wat aanleiding gee tot sy verleentheid.

Ek wonder of jy ook vandag die stem van die Here hoor. Hoe het jy te wete gekom dat jy kaal is? Het jy van die vrug geëet waarvan ek jou uitdruklik beveel het om dit nie te doen nie?

Wat bied jy as verontskuldiging aan?

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.