ToekomsVenster: Wie is belangriker?

(Foto: Elijah Hiett/Unsplash)

“En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.” – Romeine 12:2 (AFR53)

Ek soek die term “perfekte wil” van God in die Bybel, maar is nie suksesvol nie. Die term word wel in ʼn Engelse vertaling gebruik, maar wees geduldig met my.

Ek vind wel volmaakte wil, maar nie perfekte wil nie.

God se wil is heilig en volledig, heilsaam, merkwaardig en sonder enige tekort; van God se perspektief is sy wil inderdaad perfek.

Tog glo ek dat God met my lewe ʼn bedoeling het soos met alle ander gelowiges.

Sy wil is dat ons sy Naam sal eer, die Koninkryk as opdrag ernstig sal neem, rolspelers sal wees in die vernuwing van hierdie werklikheid en passievol sal deelneem aan geleenthede waar Hy aanbid word. Dit is doodgewoon sy wil, sy bedoeling, sy wens en begeerte, sy doel met ons op aarde, die sin van die skepping en herskepping. Ons bid dit trouens ook. “Laat U wil geskied soos in die hemel, net so ook op die aarde”.

God se wil is perfek. Daar is nie sprake van kategorieë van wil nie. Dat ons somtyds in omgangstaal praat van God se “perfekte wil” is heeltemal aanvaarbaar. Wanneer dit egter beteken dat ek dan op ʼn spesiale peil en vlak van geestelikheid is, het ek ʼn vraag daaroor.

Daar is nie kategorieë van Christene nie. In Christus het ons status voor God verander. Ons is heiliges, regverdiges, God se uitverkore volk en priesterdom. In hierdie priesterdom is daar nie rangordes nie. Almal het dieselfde generiese opdrag. “Seun, gaan werk vandag in my wingerd”.

Dat dit mag beteken dat die Here se roeping vir my lewe anders lyk as die van iemand anders, is inderdaad so. Immers ons gawes verskil, waarom sou ons dienswerk dan nie verskil nie.

My werk as dominee is nie meer belangrik, aanskoulik of verdienstelik as die van die motorwag nie. Ons staan op gelyke grond voor God. Ons is begenadig. Ons verdien niks, trouens ons verdien om van God vervreemd te wees, maar sy liefde vir ons is te sterk.

Is ek belangrik vir God? Absoluut.

Het Hy ʼn plan met my lewe? Sonder twyfel.

Kan my dienswerk anders lyk as die van ander? Uiteraard.

Is ek belangriker vir God as ander? Natuurlik nie.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Yvonne ·

Dankie Here dat ek opnuut weer tot die besef kom hoe groot U liefde en genade is dat U n plekkie het waarin ek pas waar ek geliefd is sonder dat ek dit verdien. Gebruik my Here soos U wil…Amen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.