ToekomsVenster: Wie is dit wat roep?


doringboom-rene-roux

Foto: René Roux.

Lees: Jesaja 6:1-8

Die treffende aspek van hierdie hoofstuk, wat fokus op die roeping van Jesaja, is dat ons eers deeglik bewus word van Wie dit is wat roep alvorens ons by die roep (“Wie kan Ek stuur?” – vers 8) of die antwoord (“Hier is ek! Stuur my” – vers 8) uitkom.

En dít wat Jesaja sien en beleef is seker een van die indrukwekkendste beskrywings van die Here se heerlikheid in die Skrif! ʼn Engelse vertaling en liedjie het dit as “I saw Him high and lifted up…” Hoe inspirerend om te weet en te beleef dat Hy wat jou roep veel groter en vér verhewe bo jouself is!
Verder kan ʼn mens dit ook nie mis dat die serafs een van die Here se wesenskenmerke uitsonder om te besing nie en dan doen hulle dit ook in drievoud: “Heilig, heilig, heilig is die Here die Almagtige!” En ek wonder of ons ʼn behoorlik genoeg begrip van sy heerlikheid, of dan van sy heiligheid, het? Daarom wonder ek of ʼn meer verstaanbare uitdrukking dalk kan wees: “Gans anders, gans anders, gans anders is die Here die Almagtige!” Want hierdie hoofstuk kontrasteer tog treffend die Here se verhewendheid, heerlikheid en heiligheid met Jesaja en die volk se onreinheid.

ʼn Verdere treffende fokus van die gedeelte is die Godsnaam, Adonai. Adonai kan vertaal word as heer, meester of eienaar en verwys na ʼn gewone, aardse eienaar of heer, maar in die meervoudvorm verwys dit na God. Lees gerus ook Psalm 123:2 en Maleagi 1:6. Hierdie roepingsvisioen herinner ons daaraan dat ons behoort aan, en in diens is van Hom wat bevry het, verlos het en gekoop het. Lees gerus 1 Petrus 1:18-19.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.