ToekomsVenster: Wie is God?


Foto verskaf aan Maroela Media

Foto verskaf aan Maroela Media

Eksodus 3:13 Daarna sê Moses vir God: “Sê nou maar ek kom by die Israeliete en ek sê vir hulle: ‘Die God van julle voorvaders het my na julle toe gestuur,’ en hulle vra vir my: ‘Wat is sy Naam?’ Wat moet ek dan sê?” Toe sê God vir Moses: “Ek is wat Ek is. Jy moet vir die Israeliete sê: ‘Ek is’ het my na julle toe gestuur.”

Probeer jy ook soms uitpluis wie God is of aanvaar jy net dat God daar is en teenwoordig is in jou lewe?

Wat wel waar is, is dat ons God op verskillende maniere ervaar. Ons reageer almal verskillend op die coram dei (teenwoordigheid van die Here).

  • Van ons beredeneer Sy teenwoordigheid as ’n verstandsbesluit. Ek is verlore, maar die genade van God word uit liefde (die rede waarom Hy genade gee) aan my gegee en daarom glo ek.
  • Vir ’n ander is dit meer emosioneel. (Ek kan nie glo dat God my red nie – Sy liefde is so oorvloedig).
  • Ander weer beleef dat God jou juis opsoek in die stiltes van die natuur of in die alleenwees van luister na musiek.
  • Die laaste groep gelowiges is doen-mense – hulle kan nie genoeg doen nie. Hulle ervaar God in dit wat hulle doen. Een bybelstudie is nie genoeg nie; hulle sal alles bywoon wat aangebied word.

Ons reageer verskillend wanneer ons bewus raak van die teenwoordigheid van God (die coram dei).

Gebed:

Here hoe kan ’n mens die God van hemel en aarde vasvang in mensewoorde? Al probeer ons sketse maak van U grootheid of ons neem ’n paar mooi foto’s, U is te groot vir ons verstand en te hoog vir ons gedagtes. Ons loof U! Amen.

Leefwyse:

Pak jou foto’s op ’n tafel uit. Kyk na al die mooi plekke en laat jou gedagtes sommer net dwaal. Kyk ook na die hartseer foto’s – laat jou gedagtes teruggaan na die hartseer plekke. God was by albei die plekke. “Ek is” het jou gedra en ons kan Hom vandag in verwondering aanbid.

Iets om vandag oor na te dink:

Jou belewenis van God verskil dalk van jou beste maat, vriend of vriendin. Bring dit vir jou spanning of is dit juis vir jou lekker en selfs bevrydend dat ons God verskillend kan ervaar?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Veritas ·

Ek ervaar God as soort van ‘n ‘Superwese’ wat,die kroon van sy skepping, die vermoëns gegee het wat geen ander skepsel het nie. Ek wonder soms oor die rede vir die skepping maar ons menslike redenasievermoë kan God se handelinge nie begryp nie. Wat ek wel van oortuig is, is dat God ‘n plan het met sy kinders, anders sou hy nie so geduldig met ons gewees het nie.

Sarel Strydom ·

God is vir my soos ‘n Vader. Glo my as Hy my wil tugtig doen hy dit behoorlik,maar as Hy seen doen Hy dit ook behoorlik. Was dit nie vir Goddelike ingryping nie, was ek en my vrou nie vanda Grootouers nie. Moet egter nie prober om God te verstaan nie, selfs die mense met die hoogste Ik in die wereld sal dit nie reg kry nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.